MOSSELBAAI NUUS - Terwyl organiseerders dit beskryf het as die 'moeder van alle optogte' na Souwesia op Vryheidsdag om juis die gemeenskap se besitreg van hierdie strandgebied te bevestig, blyk dit, anders as wat breedweg aangevoer is, dat dit juis die raad van die destydse Mosselbaai-munisipaliteit is wat verhoed het dat dié gesogte strandgebied vir privaatbelang verkoop is.
Dit blyk die munisipale raad van Groot-Brakrivier was in Mei 2000 voornemens om Souwesiastrand aan privaat-ontwikkelaars te verkoop, welwetend dat die suksesvolle tenderaar, die ontwikkelaars Panton South Cape Property Developments, voornemens was om 'n voorkeurbehuisingsontwikkeling daar op te rig.
Samesmelting
Die Groot-Brakrivier munisipaliteit het die tender, “Tender No. 4 van 1999: Tender for the Development of the Souwesia Site, Groot Brak River” uitgegee. Die besluit om dié grond te verkoop is met 'n meerderheidstem aanvaar.
In 2000, nadat die kleiner munisipaliteite, onder meer Groot-Brakrivier munisipaleit - toe 'n ANC-beheerde raad - met Mosselbaai munisipaliteit saamgesmelt het, is Souwesiastrand egter na die Mosselbaai munisipaliteit oorgedra.
Nadat die munisipale samesmelting plaasgevind het, het die Mosselbaai munisipaliteit, toe in DA-beheer, besluit om ondanks uitgebreide regsaksie deur die suksesvolle tenderaar, nie toe te laat dat die grond verkoop word nie.
Boonop wil dit voorkom asof daar destyds aan die Mosselbaai munisipaliteit bevestig is dat daar nie 'n grondeis vir spesifiek die Souwesiastrand geregistreer was nie. Dit is nie bekend of en deur wie 'n grondeis sedertdien daarvoor ingedien is nie.
Openbare mening
Mosselbaai munisipaliteit is tans besig om die openbare mening deur middel van 'n uitgebreide openbare deelnameproses te toets oor die wenslikheid al dan nie om die Souwesiastrandgebied te verhuur. Die grond word nie verkoop nie.
Die huurder wat na 'n tenderproses die 30-jaar kontrak vir die bestuur van die oord wen, moet egter, in ruil, die strandgebied opgradeer soos voorgeskryf, en vir eie rekening vir die volle 12 maande van die jaar bedryf.
Herhaalde versoeke
"Die gemeenskap se emosionele reaksie op die munisipaliteit se voornemens strook nie met die herhaalde gemeenskapsversoeke dat die strandgebied opgegradeer moet word met behoorlike ablusiegeriewe nie," meen die vorsitter van die DA-kiesafdeling in Mosselbaai, Dirk Kotzé, wat op die Mossel Bay Advertiser se navrae reageer het.
"Die raad is nou juis met 'n openbare deelnameproses besig om die gemeenskap se insette oor voorgestelde ontwikkeling te toets.
"Sodra die openbare deelnameproses afgehandel is, sal die besluit, ingeslote die gemeenskap se insette, weer voor die raad dien vir 'n finale besluit."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'