Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Vrou wat in die vroeë 1980s uit Mosselbaai agter werk aan getrek het is danksy 'n onlangse plasing op sosiale media met haar familie herenig.
Maria Marks het op Sondag, 5 Julie haar 82ste verjaarsdag in Stellenbosch gevier waar die Korras-egpaar haar onder hulle vlerk geneem het.
Marlene Korras vertel dat sy Maria in die negentigerjare op 'n plaas op Stellenbosch ontmoet het waar hulle albei werksaam was. Sy het toe glo gesê dat sy van Mosselbaai afkomstig is, maar dat sy kontak met haar mense verloor het. "Maria het basies my drie seuns help grootmaak." Marlene sê dat Maria altyd vertel het dat sy destyds uit Mosselbaai verhuis het saam met 'n blanke gesin by wie sy werksaam was. Volgens Marlene het hulle onderneem om haar "eendag met die bus" terug te stuur Mosselbaai toe, maar dit het glo nooit gebeur nie.
Nadat die twee vroue se paaie aanvanklik geskei het, het Maria later met Mina Korras, Marlene se skoonma bevriend geraak. Dié twee boesemvriendinne het later 'n woning gedeel. Mina is in 2013 oorlede, waarna Marlene en haar man, Jafta Maria sedert 2014 by hulle in Ida's Valley huisves.
Maria het vanweë 'n besering haar sig verloor, maar sê Marlene, sy was nog nooit vir hulle moeite gewees nie. "Sy doen nog alles self en is glad nie 'n sieklike mens nie."
Kyk 'n video hieronder:
Sosiale media
Marlene het soos Maria van haar verlede vertel het, notas gemaak van die name en plekke wat sy genoem het. "Sy het die laaste tyd dikwels as sy so sit, hartseer geraak en gesê sy wonder so oor haar ma en haar kinders. Dan noem sy hulle name en sê sy verlang so."
'n Familielid van die Korras-gesin, Dawid Coetzee ook van Ida's Valley, het op 2 Julie 'n plasing op die Facebookblad, Mosselbaai op sy BESTE gedoen met die inligting wat Marlene neergeskryf asook 'n foto van Maria. "Dawid het altyd gesê ek moet dié goed vir hom gee en hy is mos nou slim met die internet. "Binne 'n japtrap was daar reaksie en is Maria se familie opgespoor.
'n Susterskind van Maria, ao Tata Marks verbonde aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe op Mosselbaai, gaan haar eersdaags in Stellenbosch haal. Sy ma, Annie is diep geraak deur die eerste nuus van haar verlore suster na soveel jare. "My ouma Dina is op 99 oorlede. Sy het gesterf met die groot begeerte om weer haar dogter, Maria te kon sien. Sy het al die jare vas geglo dat tant Maria nog lewe, terwyl nie een van ons geweet het of dit wel so is nie. Sy was toe al die tyd reg."
Marlene Korras sê dat hulle baie swaar van Maria gaan afskeid neem. "Sy is so deel van ons familie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'