Inwoners van Sonskynvallei het geprotesteer teen die verskuiwing omdat, na hul mening, daar vantevore met hul ooreengekom is dat Sonskynvallei se mense ook nuwe huise sou kry wanneer Powertown se inwoners daar hervestig word.
“Net soos Powertown se mense huise kry, moet van Sonskynvallei se mense huise kry sodat daar nie ‘n Powertown gemeenskap en ‘n Sonskyngemeenskap hier ontstaan nie, maar sodat ons ‘n geïntegreerde gemeenskap kan wees wanneer al Powertown se mense hier hervestig is. Hulle gaan ons gemeenskapsaal gebruik, hulle gaan ons rugbyveld gebruik, ons kan nie afsonderlike groeperinge wees nie,” aldus een van die gemeenskapsleiers.
‘n Groep inwoners het die toegangspad na die area met die nuwe huise waar Powertown-inwoners hervestig word, beset en het geweier dat die ses Powertown-begunstigdes wat vandag hervestig word, se meubels by hul nuwe huise afgelaai word.
Daar was sedert vroegoggend ‘n groot teenwoordigheid van die polisie, munisipale wetstoepassers en munisipale amptenare wat die situasie gefasiliteer het. Na indringende onderhandeling is die situasie ontlont en is met die Powertown-inwoners ooreengekom om die mense wat vandag hervestig moet word, toe te laat om besit van hul huise te neem.

ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR