Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Paartjie van Nederland toer reeds agt maande in 'n batterygedrewe Skoda Enyaq ('n Volkswagen-gebaseerde voertuig) en het al 24 lande besoek.
Maarten van Pel en Renske Cox het ook besluit om 'n draai in die Tuinroete en spesifiek Mosselbaai te maak.
Die paartjie is reeds sewe jaar bymekaar en het besluit om hulle beroepe in Nederland prys te gee om hul droom te vervul. Maarten en Renske se toer word hoofsaaklik deur verskeie borge moontlik gemaak en hulle het spesifiek ten doel om meer bewusmaking van 'n groen-leefstyl te skep.
Renske sê hulle gebruik 60 buigbare sonpanele, wat hulle op die grond in die son uitpak om die voertuig te herlaai. Hulle maak ook gebruik, waar moontlik, van 'n openbare elektriese laaistasie. Die voertuig is tjok-en-blok gepak en die paartjie het ook 'n spesiale filter waarmee hulle water kan suiwer sodat hulle altyd genoeg drinkwater het. Wanneer hulle nie onderdak verblyf het nie, slaap hulle in 'n tent op die voertuig se dak.
Die belangrikste kenmerke van dié voertuig is die vermoë om met elektrisiteit aan die gang te bly. Dit beteken dat Maarten en Renske sonder fossielbrandstowwe soos petrol en diesel moet klaarkom, en daarbenewens dus nie die atmosfeer besoedel nie.
Hoewel die kanariegeel Skoda Enyaq 'n sportnutsmotor is met fris bande, is dit nie 'n 4x4. Renske sê die moeilikste deel van die toer tot dusver was toe hulle van Nigerië na Kameroen op 'n pad moes ry wat eintlik vir 4x4-voertuie bedoel is. "Ons het maar baie stadig gery en gelukkig was daar nie enige skade aan die voertuig nie."
Hulle sê Mosselbaaiers is geweldig gasvry, nes die res van Suid-Afrika. "Ons is baie opgewonde om die res van die Tuinroete te ontdek en wil hierna ook Lesotho besoek, dan Johannesburg en natuurlik die Kruger Wildtuin.
Hulle maak beurte om te bestuur en omdat die Skoda Enyaq nie met brandstof hoef klaar te kom nie, is dit is 'n stil reis. Die voertuig maak geen geluid terwyl dit ry nie.
VIDEO :
Maarten van Pel en sy meisie Renske Cox het reeds 24 lande besoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’