TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Die welsynsorganisasie Solidariteit Helpende Hand se ondersteunersgetalle het te midde van die Covid-19-pandemie die 40 000-kerf verbygesteek.
Volgens Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, is dit nie net 'n gewone mylpaal nie, maar mylpaal van hoop.
“Die pandemie mag ons dalk onkant betrap het, maar dit het ook ons krag gewys. Mense moet besef dat ons hierdie mylpaal gehaal en verbygesteek het in 'n tyd van Covid-19, in 'n tyd van krisis, in 'n tyd van uitdagings en in 'n tyd van beproewing. Ons sien hoe mense in hierdie tyd na mekaar uitreik en omsien. In hierdie tyd sê mense ons verbind ons aan 'n organisasie wat hom wy aan gestruktureerde, volhoubare armoedeverligting en die verbreking en voorkoming van armoede,” sê Noëth.
Noëth sê Helpende Hand se groei, te midde van die ekonomiese uitdagings wat die inperking meebring, dui daarop dat ondersteuners Helpende Hand raaksien as 'n betroubare pilaar van hoop. Ondersteuners beskou Helpende Hand ook as 'n sterk gemeenskapsinstelling wat ander help om kulturele, fisiese en geestelike armoede te oorkom deur maatskaplike dienste, gemeenskapsontwikkeling en opleiding te bied.
“Vir ons is die mylpaal van 40 000 nie 'n getal nie. Dit is name, dit is mense wat deel is van ons familie en dit is 'n ondersteunersbasis. Dit is groep mense wat beskerm en omgee – mense wat kies om deel van ander se lewens te wees. Vir elkeen van daardie ondersteuners sê ons dankie dat julle deel is van ons familie en ons nooi ander mense om ook deel te word van Helpende Hand se familie van ondersteuning, toevou en omgee vir mekaar.”
Helpende Hand maak dit nou ook maklik vir nuwe ondersteuners om dadelik by dié nie-winsgewende organisasie aan te sluit deurdat die huidige, tydrowende proses vervang is met 'n aanlyn aansoekvorm. Die nuwe proses staan bekend as Helpende Hand se e-mandaat. Die e-mandaat stel ondersteuners in staat om dadelik en in die gemak van hul huis deel van Helpende Hand se familie te word. Niemand hoef 'n oproep te maak of teruggeskakel te word nie. Ondersteuners kan self kies hoeveel hulle eenmalig of maandeliks wil bydra. Ondersteuners kan ook vir artikel 18 A-belastingsertifikaat aansoek doen.
Vir meer inligting of om deel van die Helpende Hand-familie te word, besoek www.helpendehand.co.za
Solidariteit se Helpende Hand se bestuurspan.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'