MOSSELBAAI NUUS - Mossel Bay Advertiser het by die Mosselbaai-munisipaliteit gaan kers opsteek, nadat mense gekla het oor koopkrag-tariewe wat wissel.
In een geval het 'n huurder R800 se koopkrag gekoop, maar net 100 eenhede krag daarvoor gekry.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het soos volg hierop geantwoord:
Indien daar bestaande skuld op 'n rekening is, mag die munisipaliteit 55% van kragaankope aanwend vir die delging van agterstallige skuld.
Die ander 45% word dan vir kragaankope toegelaat afhangende van die tarief van toepassing.
Hierdie inligting word op die kragaankope-strokie aangedui.
Huurders moet dus seker maak dat die huise en woonstelle wat hulle huur nie agterstallige bedrae het waarvoor hulle dan moet opdok nie.
Wie is in beheer van koopkragmeters
Koopkragmeters word deur die Mosselbaai-munisipaliteit beheer en volgens hul finansiële stelsel bestuur.
Meters word aan die onderskeie erwe gekoppel en tariewe word bepaal volgens die grootte van die aansluiting en die tipe verbruiker of tarief-opsie wat deur die verbruiker uitgeoefen word.
Indien kragverkope deur 'n diensverskaffer gedoen word, is hulle stelsel 'n spieëlbeeld van die munisipaliteit se finansiële stelsel wat uurliks met enige veranderinge opgedateer word.
Die fisiese verkoop en generering van koopkragbewyse word op die diensverskaffer se stelsel beheer volgens die inligting vanaf die munisipaliteit se stelsel.
Gaan dit net deur die Mosselbaai-munisipaliteit of is daar ander diensverskaffers?
Die munisipaliteit het verskeie kragverkopers wat diensverskaffer-kontrakte het en toegelaat word om namens die munisipaliteit krag te verkoop.
Dit sluit onder meer aanlynopsies in soos Prepaid 24, EasyPay, en banke.
Ander kragverkopers is regoor die munisipale-gebied versprei om kragaankope meer toeganklik vir die publiek te maak.
Die munisipaliteit se kassierspunte verkoop ook krag.
Dit is belangrik om daarop te let dat die tariewe deurgaans dieselfde is, geskoei op inligting wat beskikbaar is op die munisipale finansiële stelsel.
Werk die aankope van krag op 'n glyskaal met ander woorde is dit goedkoper sekere tye van die maand as ander tye?
Die tariewe hang af van die grootte van die meter, die tipe verbruiker en die tarief-opsie wat die verbruiker kies.
Die munisipaliteit het 2 opsies vir huis-houdelike aansluitings: Sien tabel hieronder.
Volgens tariefopsie 1 (enkelfase tweedelige tarief), word daar maandeliks 'n basiese fooi van R457.02 op die munisipale rekening gehef.
Die eenheidsprys vir hierdie opsie is R2.123 per eenheid. Indien 'n verbruiker 'n permanente inwoner is, kan daar vir opsie 2 (enkelfase enkelvoudige tarief) aansoek gedoen word, met geen basiese fooi wat op die rekening betaalbaar is nie, maar die eenheidsprys styg dan na R2.657 per eenheid.
Die enigste tarief wat op 'n glyskaal werk, is deernistariewe. Dit het betrekking op lae of geen inkomste-huishoudings. Daar is verskillende vlakke van deernis waarvoor aansoek gedoen kan word en die Mosselbaai-munisipaliteit moedig inwoners aan om hiervan gebruik te maak.
Aansoekvorms kan by die naaste Debtpack-kantore verkry word of deur 'n versoek per e-pos te doen by admin@mosselbay.gov.za.
Indien die publiek enige navraag het kan Mosselbaai-munisipaliteit gekontak word by 044 606 5000.
Eenheidskoste
Die enigste tarief wat op 'n glyskaal werk, is deernistariewe:
Die aankoop "herstel" (reset) op die eerste dag van elke maand. Die eerste 50 eenhede kry die huishouding gratis. Die volgende 300 eenhede kos die verbruiker R1.97 per eenheid.
Die volgende 250 eenhede kos R2.65 per eenheid. Indien daar meer as 600 eenhede in 'n maand aangekoop word, is dit R3.19 per eenheid.
Van ons lesers het gekla dat hulle meer per eenheid betaal aan die Riverside-kant van Klein Brak as aan die see se kant.
Volgens die munisipaliteit is die verskil in die hoeveelheid eenhede die gevolg van die twee verskillende tarief-opsies soos bo genoem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’