Video
MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Punt se skoolhoof, Adolf Gouws, vlieg sommer sy sestigs in!
As jy toevallig vanoggend, Donderdag 30 April, ’n helikopter in dié skool se omgewing gesien het, was jy ’n ooggetuie tot Gouws se spesiale verjaarsdagbederf wat die skool vir hom gereël het.
Hy word eers op Sondag 3 Mei amptelik 60, maar die leerders en onderwysers het hierdie spesiale geleentheid sommer vandag al saam met hom gevier deur vir hom ’n helikopterrit skool toe te reël.
Toe sy voete weer grond raak, was dit natuurlik onder die toejuiging van die leerders wat gereed gestaan het vir sy aankoms. Hulle skoolhoof het kompleet soos ’n karakter uit ’n aksiefliek gelyk toe hy met die helikopter in die agtergrond aangestap gekom het.
Hulle het eers in Afrikaans en daarna Engels vir hom gesing, waarna hy, soos dit enige volwaardige verjaarsdagviering betaam, ’n kersie op ’n koek doodgeblaas het.
VIDEO: Sing, koek, kersie, die lot!
Daar is spottend vir hom gevra of hy hoogtevrees het, maar hy het net gelag en gesê die hoogte was nie so erg nie - dit was om die lýf by die helikopter se deur in en uit te kry!
“Ek wil vir julle sê baie dankie. Baie dankie vir die personeel, dankie vir die leerders, dankie dat [hierdie] die enigste plek is waar ek graag sal wil verjaar,” het Gouws gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’