Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Die vier Smit-broers, Danie, Johan, Christie en Riaan het die afgelope naweek weer eens hul jaarlikse saamtrek op Prins Albert gehou.
Komende van onder meer George, Durbanville en Kimberley, trek die broers en hul gesinne reeds die afgelope vier jaar met hul gesinne en unieke Vespa bromponies in dié Karoodorp saam "omdat dit vir almal meer sentraal is en ons van dié dorp hou," sê Danie, oudste van die vier broers.
Die groepie is die afgelope naweek op Klaarstroom raakgeloop waar die Vespa's in die dorp se stofpadhoofstraat gou baie aandag getrek het.
Die Smitte het by die Klaarstroom-hotel aangedoen vir middagete voordat hulle deur die aanskoulike Meiringspoort tot in De Rust en terug gereis het.
Boonop slyp hulle hul tande vir die jaarlikse Buffalo Rally, wat vanjaar vanaf 12 tot 14 April by die ATKV-oord op Hartenbos gehou word.
Danie vertel dat die Vespa Klub van George gereelde deelnemers aan die Buff is en vanjaar word die sowat 20 deelnemers se unieke motorfietsies weer blink afgestof vir hul gewilde besoek, veral ook aan die massarit deur Mosselbaai.
Die Vespa is 'n Italiaanse handelsmerk wat deur Piaggio vervaardig word. Die naam beteken perdeby, of wespe, in Italiaans. Die Vespa-handelsmerk het ontstaan nadat 'n enkele bromponie in 1946 deur Piaggio & Co. S.p.A. van Pontedera, Italië vervaardig is.
Dié spoggerige Vespa-bromponies behoort aan die Smit-broers wat jaarliks met hul gesinne Prins Albert in die Groot Karoo besoek. Hulle het onder meer 'n rit deur die Meiringspoort na De Rust onderneem om die mooi van die omgewing te geniet. Hulle is by die Klaarstroom Hotel, waar die groep middagete geniet het, opgemerk. Foto: Nickey le Roux
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'