HARTENBOS NUUS - Die Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart) het onlangs met VLV Hartenbos se lede en besoekers oor dié organisasie se ontstaan en werksaamhede gesels.
Val Marsh was die spreker vir die dag en is deur drie ander lede, waarvan stigterslid Tersia Marais een was, vergesel.
Die organisasie het verlede jaar sy tiende bestaansjaar gevier.
Die stigting het gevolg ná 'n walvis in 2015 by Suiderkruis gestrand het en geen organisasie of protokolle vir die hantering daarvan bestaan het nie.
Smart werk onder die outoriteit van Bayworld-akwarium in Gqeberha en spesifiek dr. Greg Hofmeyr. Hy voorsien Smart van advies, insig, opleiding en ondersteuning. Die span se werkarea strek van Wildernis tot by Gourits.
Die VLV het gehoor dat robbe, seeskilpaaie, dolfyne en walvisse onder die seediere is wat algemeen op ons strande uitspoel. Elkeen van hierdie diere het hulle eie manier waarop hulle hanteer moet word tydens 'n stranding. Die publiek moet hulle nooit net in die water terugplaas nie, maar eerder vir Smart by 072 227 4715 kontak.
Hartenbos VLV- en Smart-lede. Agter: Sylvia Grobler, Amor Mouton, Mientjie Oosthuizen en Emi de Jager. Voor: Hanlie Vorster, Ursula Viljoen, Val Marsh, Rolien Smit, Tersia Marais en Annetjie van Wyk.
'n Baie belangrike aspek waarop Marsh klem gelê het, is die gevaar van hondsdolheid onder robbe.
Sy waarsku dat die publiek op geen manier naby die robbe moet kom nie. Dit is ook belangrik dat honde in toom gehou moet word.
Verder het Smart die VLV-lede meegedeel dat menslike aktiwiteite verskeie ander wesenlike gevare vir seediere inhou.
Dié diere raak dikwels verstrengel in vislyne of neem ander drywende voorwerpe en mikroplastiek in.
Net vir vrolikheid en om die gemoedere bietjie op te beur, het Sammy die seeskilpad, Smart se gelukbringer, ook by die geleentheid ingeloer. Hy het beslis die lede en besoekers bekoor.
Smart se gelukbringer, Sammy die seeskilpad, saam met een van die besoekers.
Smart se werksaamhede word volledig op die Stranded Marine Animal Rescue Team Facebook-blad gedeel.
Die VLV sê Smart se absolute toewyding was duidelik toe hulle die uitnodiging om verversings te geniet, van die hand gewys het omdat daar reeds 'n dier op Hartenbos se strand vir hulle gewag het.
Vir enige navrae of meer oor die Hartenbos VLV, kontak die voorsitter, Rolien Smit, by 084 621 2838.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’