MOSSELBAAI NUUS - 'n Man wat niksvermoedende Mosselbaaiers ingedoen het met die verkoop van tweedehandse voertuie se lot is beklink toe hy effektief ses jaar gevangenisstraf opgelê is na puik ondersoekwerk deur die ondersoekbeampte van die KwaNonqaba-polisie, sers Rudi Swanepoel.
Hendrik Bekker, wat onder meer as verkoopspersoon by 'n plaaslike handelaar gewerk het, het in sy privaat hoedanigheid 'n voertuig van die mense by wie hy gewoon het, verkoop.
Hoewel hy voorgegee het dat hy die voertuig vir R60 000 verkoop het, het hy in werklikheid slegs R30 000 daarvoor gekry. Bekker het toe die voertuig se eienaars oorreed om 'n bakkie van die handelaars waar hy gewerk het, te koop. Bekker het egter voorgestel dat die geld vir die transaksie deur sy eie rekening gekanaliseer moet word sodat hy 'n aansienlike afslag op die koopprys kon beding. Of so het hy voorgegee. Toe die kopers later die handelaar kontak om aflewering te bewerkstellig, is hulle meegedeel dat die spesifieke bakkie waarvoor hulle die geld oorbetaal het, weke tevore reeds aan iemand anders verkoop is. Bekker was toe reeds skoonveld.
Bekker het in hierdie geval met sowat R111 000 weggekom.
In 'n tweede voorval het Bekker 'n jong vrou wat op pad was na China ingeloop toe hy voorgegee het dat hy in sy privaat hoedanigheid 'n Mini Cooper namens haar sal kan verkoop vir R210 000. Hy het toe wel die voertuig verkoop, maar vir slegs R136 000, en die eienaar van die Mini het nooit enige sent van die verkope ontvang nie.
'n Vorige oortreding is in ag geneem met vonnisoplegging. Die streekhofaanklaer was Benita Abrahams, en streeklanddros Makamandela het Bekker op 27 Mei op twee klagte van diefstal gevonnis.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'