MOSSELBAAI NUUS - 'n Gesin van vier is nie net dakloos gelaat nie, maar ontneem van al hulle noodsaaklike besittings na afloop van 'n brand wat hulle woning in Ankerstraat, D'Almeida in puin gelê het. Die voorval het op Sondag, 3 Augustus omstreeks 15:50 plaasgevind. Verskeie strukture is tydens die brand vernietig. Niemand is tydens die voorval beseer nie.
"Die mense het alles verloor," vertel Kosie Gericke, 'n werkgewer van een van die inwoners.
Gericke is 'n voormalige lid van die Da Gamaskop-polisie en aangesien Ankerstraat reg agter die Da Gamaskop-polisiestasie geleë is, is die polisie ook nou aanboord om die gesin in nood by te staan. Gericke, wat tans in die konstruksie- en huisopknappingsbedryf werksaam is, het aangebied om die wonings te help herbou. "Enige skenkings sal met ope arms verwelkom word."
Daar is ook tans groot nood aan klerasie, ook skoolklere. Enige vroueklere, groottes 28, 36 en 42 word dringend benodig, asook mansklere, grootte 34.
Navrae kan gerig word aan sers Johnathan Jansen (082 821 0538) sosiale misdaadvoorkomingsbeampte van die Da Gamskop-polisie.
Belangrike lewensmiddele is vernietig tydens die verwoestende brand.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'