MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai spog met 'n kuslyn van 122km en die talle blouvlagstrande en ander swemstrande is van die grootste trekpleisters vir besoekers tydens somermaande.
Op enige gegewe dag is daar sowat 80 lewensredders by die 22 tot 26 gewildste swemstrande aan diens.
Mosselbaai se jongmense word op die strande groot, baie beskou lewensredding nie net as 'n gemeenskapsdiens nie, maar as 'n gewilde, internasionale sport waarin Suid-Afrikaners besonder goed presteer.
Talle jongmense wil graag as lewensredders kwalifiseer, maar die omstandighede waaronder dié jongmense moet werk, wek kommer.
Gekwalifiseerde lewensredders werk deur die loop van die jaar baie hard om tydens die somervakansie 'n onselfsugtige, onontbeerlike diens aan inwoners en vakansiegangers te lewer.
Hulle betaal self vir die broodnodige opleiding en moet daarbenewens 20 uur gemeenskapsdiens oor naweke verrig voordat hulle mag kwalifiseer.
Die Mosselbaai-munisipaliteit gebruik 'n eksterne diensverskaffer wat deur 'n tenderproses aangewys is om die lewensreddersdiens namens die plaaslike owerheid te bedryf.
Die onderskeie lewensredders wat vakansietye die son, alle weersomstandighede en gevaarlike seetoestande moet trotseer om mense op strande veilig te hou, is oorwegend aan die vier plaaslike lewensredderklubs verbonde, hoewel sommige plaaslike lewensredders oor Desembervakansies vir ander dorpe soos George, Knysna en Plettenbergbaai werk omdat die salarisse en fasiliteite daar tot lewensredders se beskikking merkbaar beter is.
Dié jongklomp gaan sorg dat Diasstrand hierdie somer in veilige hande is. Hulle bedank die borge wat hulle ondersteun. Foto: Nickey le Roux
Goeie nuus
"Daar is goeie nuus, Mosselbaai se lewensredders se salarisse gaan aangepas word," bevestig Gerald de Jager, wat tans aan die hoof staan van Eden Lifesaving wat lewensreddingsdienste namens die munisipaliteit bedryf.
Hy sê dat alle strande wat deur lewensredders bedien word, oor die voorgeskrewe toerusting beskik om hulle in staat te stel om hul taak uit te voer.
"Die besoekers aan ons strande moet bedag wees op die opdragte wat die lewensredders op die strand gee.
"Daar word vlae op strande aangebring om die veilige swemgebied af te baken. Lewensredders word geleer om die seestrome te lees en die vlae daarvolgens aan te bring.
"Mense wat buite die afgebakende swemarea dit in die see waag moet besef dat hulle onverantwoordelik optree want hulle kan in die moeilikheid beland en ander saam met hulle in die moeilikheid kry."
Besoekers moet besef lewensredders is net sekere tye aan diens en moet veral versigtig wees wanneer geen lewensredders beskikbaar is nie.
Sommige strande gevaarlik
De Jager maan dat besoekers nie op sommige strande soos Danabaai in die see moet swem nie.
"Let daarop of lewensredders op die strand ontplooi is. Moenie op strande probeer swem waar daar nie hulp beskikbaar is nie."
Sommige swemstrande, soos veral Diasstrand en Glentana, is baie gewild, maar gevaarlike strande waar strandgangers veral bedag moet wees op die seestrome.
Onlangs is nege persone, onder meer 'n buitelandse toeris in sy sewentigerjare in een week by Diasstrand gered.
Terselfdertyd het drie jong mans ook 'n buitelandse toeris by Glentana uit die see gered.
Langer seisoen
"Die gemeenskap vra vir jare reeds dat lewensredders vroeër, voor die skole sluit, selfs van so vroeg as middel November en tot middel Februarie op die gewildste swemstrande ontplooi moet word," meen die ouer van een van die lewensredders wat toevallig by 'n onlangse redding op Diasstrand betrokke was omdat die amptelike lewensredders toe nog nie ontplooi was nie. "
Tereg word opgemerk dat buitelandse toeriste Mosselbaai se gematigde klimaat baie aantreklik vind en strande sal besoek selfs op dae wat vir plaaslike inwoners straks te koud mag wees.
"Baie besoekers is koue gewoond, ons klimaat en veral die seetemperature skrik hulle nie af nie.
"Een verdrinking van 'n buitelandse toeris sal onnodige internasionale skade aan die dorp se toerismereputasie doen," meen 'n persoon in die gasvryheidsbedryf.
Skole verplig ook nie meer leerders om tot die dag wat die skole amptelik sluit by die skool te wees nie, dus is die toeloop na strande aansienlik vroeër as gewoonlik.
"Die munisipaliteit neem kennis van hierdie versoek en sal oorweging daaraan gee," het die direkteur van gemeenskapsdienste, Elize Nel gesê.
Sy sê kennisgewingsborde by strande wat teen gevare waarsku is in oorleg met die munisipale omgewingsbeampte bepaal.
"Indien ander, meer geskikte plekke voorgestel word, ontvang ek die voorstelle graag op skrif met 'n kaart wat die liggings aandui sodat dit oorweeg kan word."
Borgskappe
Besigheidseienaars op Diasstrand het wel voorgestel dat besighede bydra tot beter fasiliteite vir die lewensredders by daardie strand.
Hulle meen dit is in hul besighede se belang dat Diasstrand as 'n behoorlik beveiligde area met heelwat meer lewensredders aan diens, juis omdat die strand so wyd strek en die paar lewensredders wat aan diens is, nie noodwendig die hele strandgebied na behore kan bedien nie.
Om meer lewensredders te ontlpooi, het 'n wesenlike begrotingsimplikasie. Vandalisme word ook voorgehou as 'n rede waarom nie beter, meer permanente fasiliteite vir lewensredders op plaaslike strande aangebring word nie.
"Neem in ag dat strandbesoekers die strande seisoenaal benut.
"Baie strande lok vir die res van die jaar nie werklik baie besoekers nie. Strandomstandighede soos die hoogwatermerk bring ook mee dat permanente strukture nie haalbaar is nie," meen De Jager.
Tog gee hy toe dat daar 'n groot behoefte, asook geleentheid is vir strandsambrele en gazebos sodat die lewensredders nie aan die felheid van die somerson en selfs onverwagse reën blootgestel moet wees nie.
"Ons nooi groot borge om die kans te benut om die bemarkingsgeleentheid aan te gryp en skenkings in hierdie verband te doen," sê De Jager.
Hy bedank ook die borge wat in die verlede wel skenkings gedoen het. Nie alle skenkings oorleef egter 'n seisoen nie, gevolglik is daar tans 'n baie groot behoefte aan borgskappe.
Lees verwante artikels:
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'