MOSSELBAAI NUUS - Charles Theunissen se volgehoue passie vir sy tuisdorp, Mosselbaai en sy gemeenskap se geskiedenis is ongekend.
Sy bydrae tot die optekening en bewaring van sy voorsate se geskiedenis getuig hiervan.
Hy is een van die eerstes uit sy gemeenskap wat in die middel 1990s 'n permanente foto-uitstalling van die bruin gemeenskap uit die vorige era in die Mosselbaai-kultuurmuseum geplaas het. Hierdie projek het hy in onderskeidelik in 2013 en 2017 met die verskyning van twee boeke opgevolg.
Theunissen is egter 'n produktiewe skrywer en sy derde boek, waaroor verlede jaar in die Mossel Bay Advertiser berig is, verskyn eersdaags.
Volgens Theunissen sou die boek in September oftewel Erfenismaand verskyn het, maar die Covid-19-pandemie het sy planne effe in die wiele gery. Hy is egter hoopvol om die boek vanjaar nog, teen middel Desember bekend te stel.
Die inhoud van sy boek is egter nog 'n raaisel, vertel Theunissen. Hy vind dit egter bemoedigend en is beïndruk met 'n paar instansies en tientalle individue uit die groter gemeenskap wat met afwagting na sy nuwe boek uitsien. Wat die inhoud van die boek betref wil hy ook nie veel uitwei nie. Wat hy wel met die lesers kan deel, is dat hy hulle weer eens op 'n historiese reis wil neem.
Theunissen is onlangs deur 'n bekende plaaslike organisasie genooi om soortgelyke projekte saam met hulle aan te pak, maar as gevolg van 'n druk program is dit nie haalbaar nie. Wat nou vir hom belangrik is, is om sy derde boek te voltooi.
"Die geheimhouding rondom die boek se inhoud is met goeie rede," meen Theunissen. Hy voer verder aan dat die leser hierdie keer op heelwat verrassings sal afkom. "Hou gerus die pers asook sosiale media dop vir meer inligting oor die boekbekendstelling," knipoog hy.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'