MOSSELBAAI NUUS - Sewe verdagtes is deur lede van die Da Gamaskop-polisie in hegtenis geneem nadat hulle verbind is met die verkoop van gesteelde goedere.
Gedurende die tydperk vanaf 1-10 Mei, is daar by Commercial Park, Voorbaai by 'n stoorplek ingebreek en verskeie items is gesteel.
Van die koperware wat gesteel is is in stukkies opgekap en by 'n plaaslike skrootwerf verkoop.
Tydens patrolliediens, het konst Elwynand Karelse en sers Lukhaya James verdagtes opgemerk met goedere in hulle besit.
Die polisielede het gesien hoe die verdagtes die goedere neergooi en vlug. Die vermoedelik gesteelde goedere en ander inligting het daartoe gelei dat daar op 59kg se opgekapte bronsmetaal en 'n musieksentrum beslag gelê is.
Dit het gelei tot die inhegtenisneming van sewe verdagtes op 17 en 18 Mei deur konst Karelse en sers James in samewerking met ao Deon Louw. Die verdagtes se ouderdomme is tussen 22- en 32-jarige ouderdom.
Hierdie inhegtenisnemings het bygedra tot die drastiese afname in kriminele bedrywighede in veral die industriële area in Voorbaai waar misdaad tot groot kommer gelei het.
Die stasiebevelvoerder, kol Mark Hartzenberg het die lede betrokke bedank vir hul oplettenheid, spoedige opvolg en inhegtenisnemings.
Die ondersoekbeampte in die saak is ao Arlene Stokes.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'