So sê Sandri Markgraaf, 'n nuwe opvoeder by Curro Private Skool, tydens die emosie-belaaide loodsing van die skool se Dina-projek vandeesweek.
Sandri se seun is in Februarie vanjaar, enkele weke voor sy 13de verjaarsdag, dood nadat 'n giftige spinnekop hom gebyt het.
Hierdie nuwe projek is vernoem na Dina Wessels, 'n peuter wat op 24 Mei in 'n frats-ongeluk oorlede is.
Volgens Linda Willemse van Curro Private Skool, het die skool, diep geraak deur Dina se afsterwe en ook die nood van 'n ander kind wat na 'n fratsongeluk in 2010 gestremd gelaat is, Zac Bruwer (5), besluit om jaarliks 'n fondsinsameling te hou in Meimaand. Die opbrengs sal geskenk word aan iemand met spesiale behoeftes. Vanjaar is Zac die begunstigde.
Tydens Woensdag se geleentheid is 'n tjek ter waarde van R5 000 en ook 'n spesiale hospitaalbed aan hom oorhandig. Die
R5 000 is ingesamel toe Curro onlangs 'n groot pannekoekverkoping ten bate van Zac gehou het.
Zac se ma, Lorena, het kortliks tydens die oorhandiginsgeleentheid verduidelik watter uitdagings sy tuisversorging behels.
Die hospitaalbed kon aan Zac geskenk word danksy 'n skenking van Golf For Good, wat tydens die oorhandiging verteenwoordig is deur Wynand Stander, die internasionale gholfster, Louis Oosthuizen, se joggie.
Volgens Wynand het die gholfer, toe hy van Zac se behoefte te hore gekom het, ingewillig om die bedrag wat ingesamel word vir Zac te ewenaar sodat die bed aangekoop kan word.
'Magic'
"Dit is dae soos vandag dat die 'magic' van 'n gemeenskap soos Mosselbaai se vemoë om saam te staan en iets goeds te weeg te bring, my net van voor af weer verstom," het Stander, toevallig 'n jarelange vriend van Lo-rena Bruwer, tydens die oorhandiging gesê.
Dina Wessels se ouers, Pierre en Dinette, was teenwoordig om die nuwe bed aan Zac te oorhandig en Sandri het names Curro die tjekoorhandiging behartig.
"Ek is net oorweldig deur alles wat vandag gebeur het en maats, as ek huil, is dit omdat ek gelukkig voel, nie hartseer nie," het Bruwer gesê toe sy die leerders toespreek.
Sy het Zelia le Roux, ook van Curro wat die projek help koördineer het, bedank - nie net vir die skenking nie, maar ook dat sy haar daarop toelê om die leerders bloot te stel aan die behoeftes van gestremdes.
Met die hele skool teenwoordig, het die Curro marimba-orkes die geleentheid afgesluit terwyl die skoolkoor 'n gepaste gebed gesing en die leerders helderpienk en pers ballonne in die lugruim losgelaat het.
"Die gawe om te kan gee, verskaf genoegdoening wat 'n leeftyd hou," het Linda Willemse ten slotte gesê.

'n Emosie-belaaide geleentheid het hom afgespeel by Curro Private Skool op Woensdag, 25 Junie, toe 'n spesiale hospitaalbed en kontantbedrag aan die gestremde jong Zac Bruwer oorhandig is. Hier is Zac saam met sy ma, Lorena, Michal Rehr (Golf for Good), Pierre en Dinette Wessels (agter), Zelia le Roux (voor), Wynand Stander (Golf for Good) en Stephen le Roux (sittend).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'