MOSSELBAAI NUUS - Hoërskool Punt het onlangs 'n aansoek by die Mosselbaai-munisipaliteit ingedien om tydelike eenrigting verkeersvloei tydens spitstye by Danie de Jager-, Hogarth- en Hofmeyrstraat te implementeer.
Die skool sê daar is tans verkeersopeen-hopings en kommer oor leerders se padveiligheid weens die hoë volume voertuie, wat in verskeie rigtings ry.
Skoolhoof, Adolf Gouws sê die skool het sedert 2020 met meer as 200 kinders gegroei. "Dit beteken 200 voertuie en nog busse wat bygekom het. Dit maak dit moeilik om die busse in dieselfde strate as die voertuie te akkomodeer. Die groot probleem is die kruising by Hofmeyr- en Kerkstraat. Die taxis wat inkom tel kinders daar op en maak ook daar U-draaie en die straat is verskriklik besig."
Gouws sê hulle sal graag die optelpunt wil skuif.
Hy sê nog 'n probleem wat die skool ondervind is 4x4-voertuie wat in Hofmeyrstraat teen die sypaadjies opry.
"Dit is 'n vinnige proses om kinders op en af te laai en ons het verlede jaar Desember 'n insident gehad waar 'n matriekdogter raakgery is. Daar is oor haar voet gery nadat sy geval het."
Gouws sê hulle vrees vir die kinders se veiligheid.
Die skool versoek dat die strate op weeksdae vanaf 06:30 tot 08:00 en weer vanaf 13:00 tot 14:30 tydelik in eenrigtingstrate omskep word.
"Dit is slegs 'n uur in die oggend en 'n uur in die middag en ons hoop die gemeenskap sal ons ondersteun."
Volgens Gouws beoog hulle ook om die ou fietsloods as 'n optel en draaipunt vir die taxis te wees. "Ons neem dan die taxis weg van Kerk- en Hofmeyrstraat."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’