NASIONALE NUUS - Die skoolkurrikulums vir grade R tot 9 gaan binnekort verbreed word om kodering, robotika en die Afrika-taal Kiswahili in te sluit.
Planne om leerders vir die sogenaamde 'vierde industriële rewolusie' voor te berei is op 16 Julie deur die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga aangekondig.
Ouers en onderwysers vra egter of die nuwe vakke betyds ingebring sal word. Opvoeders wonder ook of dié opleiding voldoende sal wees en of skole die nodige onderwyshulpmiddels betyds sal ontvang. Hulle reken hulle kan met reg bekommerd wees want onderwysers is voos van aanpas sonder voldoende opleiding en leermiddels oor die afgelope aantal jare.
Vrae wat gevra word sluit in of skole met groot leerdergetalle van 40 plus genoeg rekenaars sal ontvang. Klasse vol rekenaars bring veiligheidsprobleme mee, om nie eens te praat van instandhoudingskwessies nie. Sommige leerkragte wys daarop dat onderwysdepartemente oor die jare sterk en goed was met beleid, maar daar was altyd 'n groot gaping tussen beleid en die implementering daarvan.
Ander onderwysers is opgewonde oor die nuwe verwikkeling. Kodering en robotika begin reeds in die grondslagfase die kinders se vaardighede in kreatiewe denke ontwikkel en stimuleer 'n ontwerp-en-bou-ingesteldheid. Hulle word vroeg reeds op die pad geplaas om kritiese denkers, ontwerpers en makers in die veranderende wêreld van die 21ste eeu te word. Kodering handel oor die aanleer van rekenaartaal. Leerders word van gr. R af aan rekenaars en die strukture en stelsels waardeur instruksies aan rekenaars oorgedra word, bekendgestel. Daarna leer hulle stelselmatig en graadsgewys meer gevorderde prosesse sodat hulle uiteindelik in gr. 9 selfstandig 'n volledige rekenaar kan bou. Kodering as vak word reeds in 2020 in 1 000 skole in vyf provinsies geloods. Die vak het 'n sterk ingenieursinslag en lei leerders om skeppend te dink, te ontwerp en self robotte te maak. Geen spesiale ruimtes word hiervoor benodig nie. Die leerders werk meestal met karton.
Die derde vak wat ingevoer gaan word is die taal Kiswahili, of net Swahili. Die taal word in bykans alle Afrikalande gepraat en verstaan. As jy hierdie taal magtig is, kan jy deur die hele Afrika sonder enige kommunikasieprobleme reis.
Hoe berei ouers met laerskoolleerders hulle voor vir die nuwe uitdaging? Mens kan seker maar net voorstel dat hierdie jaar se Kersgeskenke 'n rekenaar moet insluit. Wees ook gereed om later die voorgeskrewe leerboek vir die graad aan te koop.
The fourth industrial revolution is upon us and basic education minister Angie Motshekga announced in July that the subjects of coding, robotics and the African language Kiswahili will be introduced in grades R to 9. Many teachers and parents are concerned about the timing of the introduction, as well as the availability of learning aids.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'