GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Minstens 180 werkers van die Watson-skoenfabriek op Groot-Brakrivier het sedert Maandag, 9 Julie oor lone gestaak. Volgens Eben Delport van die vakbond Nulaw hou die staking ook verband met die uitbreiding van die gesinsverantwoordelikheidsvoordele vir die werknemers se gesinne.
"Tans is vakbonde se versoek 'n 9.5% verhoging en die werkgewers bied 6.25% aan."
Volgens Delport het onderhandelinge 'n dooiepunt bereik en, nadat dit geblyk het dat 90% werknemers bereid was om te staak, is met die staking voortgegaan.
Delport het teen druktyd gesê dat hulle in die proses is om te bepaal of die partye 'n ooreenkoms kan bereik.
Beweringe wat op sosiale media die ronde gedoen het dat stakers op Woensdag, 11 Julie 'n bedreiging vir voertuie op Groot Brak ingehou het, was nie waar nie. Slegs 'n binneband is aan die brand gesteek en werknemers het vreedsaam voor die skoenfabriek saamgedrom.
Die bestuurspan van die skoenfabriek was, volgens 'n vrou wat die telefoon beantwoord het, nie bereid om aan die Mossel Bay Advertiser kommentaar te lewer nie. Navrae is verwys na die fabriek se menslike hulpbronne departement, wat met die ter perse gaan nie op die kantoortelefoon beskikbaar was nie.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'