MOSSELBAAI NUUS - Of Rocky die bergskilpad vir die Paasnaweek na Mosselbaai onderweg was toe sy raakgery is, sal niemand weet nie. Wat wel 'n feit is, is dat Rocky 'n merkwaardige pad na herstel stap nadat bykans haar hele dop verwoes is en sy boonop 'n been ook gebreek het.
Mosselbaaier, Albert Wiffen het dié skilpad op 2 Februarie op die pad duskant Oudtshoorn opgetel nadat hy verby haar gery het. Sy was onderweg in die rigting van Mosselbaai.
"Ek het gesien sy is erg beseer en het eers aangery maar toe omgedraai om haar uit die pad te haal. Ek het gevoel sy verdien 'n kans en het 'n stuk van die dop wat in die pad gelê het opgetel en haar na die Mosselbaai-dierehospitaal geneem."
Veearts, Bennett Stander sê hulle het dit eers oorweeg om die skilpad 'n genadedood te gee. "Sy het baie sleg seergekry, maar skilpaaie is ongelooflike diere. Hulle het 'n aanpassingsvermoë soos min. Ek is so bly ons het daarteen besluit en dat ons haar 'n kans op lewe gegee het. Sy word elke dag sterker," sê Stander.
Meehika Marais wens vir Rocky die skilpad 'n goeie Paasfees toe.
Wiffen bel gereeld om te hoor hoe Rocky vorder. Stander sê hulle het tydens 'n prosedure haar dop toegemaak sodat daar nie vlieë of maaiers inkom nie.
Dit kan jare duur voordat die dop weer toegroei. "Ons het intussen 'n tydelike veselglas-dop vir haar opgesit," berig Stander.
'n Ingenieur op Mosselbaai is ook in die proses om vir Rocky 'n dop te ontwerp wat permanent opgesit kan word.
Stander sê hulle het vir eers gedeeltes van Rocky se dop aanmekaargegom en ook sekere dele van die dop vasgeskroef. Rocky het intussen merkwaardig herstel en eet weer met oorgawe.
Een ding is seker, Rocky gaan beslis nie Paasnaweek alleen vier nie. Vir eers bly sy in die dierehospitaal aan.
"Ons hoop om haar eendag weer in haar natuurlike omgewing te kan vrylaat," sê Stander.
Maar een ding is seker, kompleet soos in die fabel van die skilpad en die haas, behoort hierdie Paasnaweek se kollig nie aan die Paashaas nie.
Foto's: Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'