MOSSELBAAI NUUS - Die 39-jarige man wat Sondag, 7 Januarie amok gemaak het toe hy urelank vanuit die plaashuis waar hy saam met sy ouers en 'n broer tuisgaan, op die polisie, nooddienswerkers en hulle voertuie geskiet het, het op Woensdag, 10 Januarie in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Die skraalgeboude, bruingebrande man met welige hare het duidelik en met selfvertroue in die beskuldigde bank op die enkele vrae aan hom gestel, geantwoord. Hy staan voorlopig tereg op 'n aanklag van poging tot moord, maar hangende verdere verklarings, is daar 'n waarskynlikheid dat nog aanklagte bygevoeg kan word.
Die beskuldigde, geklee in 'n vaal motorfietsklubhemp het om regshulp aansoek gedoen.
Sy bejaarde ouers, wat ook die hofverrigtinge bygewoon het, het stil langs mekaar in die hofbank gesit. Hulle het die hofgebou dadelik na afloop van die verrigtinge verlaat.
Die saak is uitgestel na 17 Januarie wanneer die beskuldigde geleentheid sal kry om aansoek te doen om borgtog. Hy bly intussen in aanhouding. Die voorsittende beampte was landdros Clifton Maseti.
Een van die hommeltuigbeelde van die Brandwag-omgewing waar 'n skietdrama Sondag op 'n plaas op die Geelebeksvleipad afgespeel het.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'