MOSSELBAAI NUUS - Die eienaar van die gasteplaas buite Brandwag waar polisie hulle gesamentlike beheersentrum opgestel het op Sondag, 7 Januarie, toe 'n 39-jarige man vanuit 'n nabygeleë plaashuis verskeie rondes ammunisie afgevuur het, sê dat hulle die oggend 07:00 reeds duidelik die skote kon hoor.
Die skietdrama, waartydens die man met verskeie wapens van verskillende kaliber ook op polisielede, nooddienswerkers, verkeersbeamptes en hulle voertuie gevuur het, het eers na 18:00 ten einde geloop na urelange onderhandeling en nadat spesialis-eenhede van die polisie op die toneel ontplooi is.
Dit is nog onbekend waarom die man aan die skiet geraak het. Volgens inligting, het van die ander huisinwoners vroegoggend wakkergeword van die klank van skote wat binne die huis afgevuur is. Hoewel aanvanklike inligting vanaf die misdaadtoneel daarop gedui het dat die voorval as 'n gyselaarsdrama hanteer word, het die man se ouers en broer die huis later die oggend vrywillig en ongedeerd verlaat om na veiligheid te beweeg. Dit blyk egter volgens inligting of die man wel aggressief teenoor familielede opgetree het. Die man se ouers het die polisie na die toneel ontbied.
Skote weergalm
"Die skote het die hele vallei vol weergalm," sê die eienaar van Outeniquabosch Lodge, wat met die polisie se aankoms op die toneel dadelik 'n veilige lokaal beskikbaar gestel het vir die gesamentlike beheersentrum vanwaar die situasie deurgaans gemonitor is. Hulle noem dat hulle vroegoggend reeds deur middel van 'n WhatsApp-groep vir boere in die omgewing, verneem het dat daar moeilikheid op 'n buurplaas verder af in Geelbeksvlei, Klein-Brakrivier se kant toe is.
Die eienaar stel dit duidelik dat Outeniquabosch Lodge slegs betrokke was om hulp aan die polisie te verleen weens die plaas se goeie ligging met betrekking tot waar die skietdrama hom afgespeel het.
Die Geelbeksvleipad was vir 'n groot deel van die dag gesluit totdat die situasie ontlont is.
Met die Da Gamaskop-polisie, nooddienste en verkeersbeamptes se aankoms op die toneel omstreeks 09:00, het die man vanuit die plaashuis op hulle gevuur. Verskeie voertuie is beskadig en daar moes gekoes word vir dwaalkoeëls. 'n Ambulans op die toneel is verskeie kere getref.
Ook toe polisielede agterin die ambulans gesit het, het van die insittendes groot geskrik toe 'n dwaalkoeël die kajuit tref.
Die polisie se openbare orde-eenhede van Oudtshoorn en George is na die toneel ontbied en het later die vasgekeerde polisielede en nooddienswerkers na veiligheid vergesel. Burgerlike hommeltuigoperateurs is ook na die toneel ontbied om die situasie beter vanuit 'n ander perspektief te monitor sodat bepaal kon word presies waarvandaan die man skiet en watter tipe wapens en ammunisie hy by hom gehad het.
Urelange onderhandeling
Om 14:48 het die polisiewoorvoerder vir die Suid-Kaap, kapt Malcolm Pojie, wat deurgaans op die toneel was, by navraag gesê dat die "status nog dieselfde" was. Pogings van 'n onderhandelaarspan van die polisie om die man te oorreed om homself oor te gee, het telkens gefaal en is met geweervuur begroet.
Volgens inligting het hy, benewens die etlike rondes ammunisie in sy besit wat hy afgevuur het, ook ammunisie herlaai en is in die proses beseer.
Omstreeks 16:00 het die taakmag toegetree, waarna die onderhandelingsproses verder gevoer is. Kort na 18:00, het die man homself aan die polisie oorgegee en is hy in hegtenis geneem deur die lede van die taakmag.
Volgens kapt Pojie het speurders en forensiese deskundiges nege vuurwapens en 'n groot hoeveelheid ammunisie op die toneel gevind. Die saak word ondersoek deur ao A Stokes van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'