Update
HARTENBOS NUUS - Die skielike uitstel van die 2026- nasionale herfsskolesportkampioenskap wat in die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg sou plaasvind, het groot teleurstelling onder atlete veroorsaak, maar ook finansiële druk op ouers geplaas.
Die byeenkoms sou van 8 April tot 12 April plaasgevind het. Daar word beweer die rede vir die skielike besluit is omdat onderhoud aan die stadion gedoen word.
Inwoners van Bayview in Hartenbos wie se seun, JD van Wyk, 'n graad 11-leerder van Hoërskool Outeniqua is, sê hulle het reeds vliegtuigkaartjies en verblyfkostes aangegaan.
Sy ma Engela het met Mossel Bay Advertiser gesels en sê JD het hom vir beide klub- en skole SA’s gekwalifiseer, ’n prestasie wat jare se harde werk en toewyding vereis.
Hy sou aan die seuns o.17-diskus deelneem.
“Hy was reg vir hierdie byeenkoms. Dit was vir hom ’n groot doelwit,” sê Van Wyk.
Volgens haar raak die situasie nie net prestasie nie, maar ook belangrike geleenthede vir die toekoms.
“Hierdie byeenkomste is waar kinders raakgesien word. Dit gaan oor beurse en geleenthede. Nou word dit van hulle ontneem.”
JD van Wyk
Benewens die emosionele impak, is daar ook die finansiële las wat baie gesinne reeds gedra het.
Baie ouers het reeds kostes aangegaan vir vervoer en reisreëlings en akkommodasie.
Van Wyk sê sy het reeds op 17 Maart die verblyf en die vliegtuigkaartjies bespreek.
Die Van Wyks het bykans R12 000 hiervoor opgedok.
“Hulle het ons darm met die verblyf tegemoet gekom so ons het net 'n fooi daar verloor. Ons het met die vliegtuigkaartjies ook per persoon verloor, maar dit wat ons in krediet het kan ons vir 'n tydperk gebruik. Maar dit is maar 'n finansiele impak op die ouers wat se goed reeds bespreek was.”
Intussen het die departement van sport, kuns en kultuur, die departement van basiese onderwys en die Suid-Afrikaanse Skole-atletiek in 'n verklaring gesê die nuwe datum is 29 April tot 2 Mei en dat dit by die Pilditch-stadion in Pretoria gehou sal word.
Vorige artikels:
- Gayton McKenzie blasts postponement of 2026 SA Schools Athletics Championships, "heads will roll"
- SA high school athletics championship postponed
- SA schools athletics championship hangs in the balance
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’