MOSSELBAAI NUUS - Die Haven-nagskuiling is op 27 Februarie verras met etlike houers vol blikkieskos en nie-bederfbare voedsel wat deur die Laerskool Hartenbos spesiaal vir die skuiling ingesamel is.
So ‘n skenking maak die bestuur en komitee van die skuiling se harte oneindig bly, aangesien dit werklik ‘n uitdaging is om elke dag vir die ongeveer 70 inwoners voedsame maaltye voor te sit sonder om die begroting te kasty.
Daarbenewens leer dit leerders dat daar mense in die samelewing is wat werklik swaarkry en dat dit ‘n vreugde is om te gee.
"‘n Baie groot dankie aan die Laerskool Hartenbos. Die skuiling wil ook graag ander laer- en hoërskole in ons omgewing uitdaag om die Haven te ondersteun met voedsel van watter aard ook al."
Enige donasies van voedsel is welkom, nie alleen blikkieskos nie, maar ook items soos suiker, meel, olie, soppoeier en melk.
Die Haven is geleë in Matfieldstraat 3 (agter die ou Shoprite).
Items kan ook afgegee word by Cachalot Vis in Louis Fourieweg naby Agri.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'