Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Skarrelhuis-werkskeppings-projek is op 3 Oktober verlede jaar in Groot-Brakrivier geloods om werknemers en werkgewers by mekaar uit te bring en 'n databasis van werkers en hul bekwaamhede op te bou.
Werkverskaffers en besighede kan sedertdien die Skarrelhuis kontak vir werkers en 'n persoon met die regte vaardighede daar gaan oplaai.
Meer as 500 werksoekers en 378 werkverskaffers is reeds op die databasis geregistreer.
Die Skarrelhuis-projek is 'n gemeenskapsinisiatief wat begin is nadat probleme ervaar is met werksoekers wat op die hoek van Langstraat en die Sandhoogtepad gestaan en wag het.
Dié werkers moes dikwels in die wind en reën staan sonder ablusiegeriewe, terwyl voertuie wat daar gestop het om werkers op te laai, soms verkeersprobleme veroorsaak het.
Fondsinsameling
'n Fondsinsameling is Woensdag, 8 Maart, by die Searle's Village restaurant in Groot-Brakrivier gehou.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé was die geleentheidspreker. "Die Skarrelhuis is 'n venootskap tussen die Mosselbaai-munisipaliteit, die Wykskomitee van Wyk 4, die Groot-Brakrivier-belastingbetalersvereniging en die Rotariër-klub op Groot-Brakrivier.
Dit is deur wyksraadslid Annatjie Janse van Rensburg geïnisieer, maar is tans gemeenskapsgedrewe en -befonds."
"Ons as munisipaliteit is baie trots en dankbaar vir die aktiewe gemeenskap in Groot-Brakrivier."
Wedersydse vertroue
Raadslid Annatjie Janse van Rensburg vertel: "Die werksoekers was aanvanklik sku om by die Skarrelhuis aan te klop, maar ons benadering is een van omgee en meelewing met hulle behoeftes. Die Skarrelhuis speel 'n bemiddelende en fasiliterende rol wat werkenemers en werksoekers ten beste probeer dien. Die projek gee tans baie hoop en word elders in die provinsie ook raakgesien as 'n moontlike "beste praktyk".
Ronald Hacquebord, die voorsitter van die Belastingbetalersvereniging sê dat die inwoners graag die Groot-Brak omgewing 'n mooi en lekker plek wil maak vir mense om te besoek. "Die Skarrelhuis is 'n baie suksesvolle toevoeging tot die dorp. Hier kom al hoe meer jongmense na die dorp en ons moet in pas bly met die vooruitgang wat dit tot gevolg het."
Skarrelhuis funksioneer goed
Volgens die nuwe bestuurder van die Skarrelhuis, Sonja Pelser is hul soggens baie besig tussen 07:00 en 09:00. Ongeveer 20 werkers 'n dag word opgelaai. Konstruksie-maatskappy en ander besighede in die boubedryf neem 'n paar werkers 'n dag en sal vooraf reëlings tref. "Ons stel 'n profiel van elke werker op en teken elke werksbesoek en verwysing aan." Daar was aan die begin baie groeipyne, maar dinge is nou meer georden.
"Ons grootste uitdaging is werkgewers wat net stop en mense wil oplaai.
Hulle moet asseblief registreer en vooraf reël en sê wat hulle behoefte is."
Die Skarrelhuis se kontaknommer is 071 537 8317.
VIDEO - Skarrelhuis inisiatief:
Ronald Hacquebord (GB Belastingbetalersvereniging), raadslid Annatjie Janse van Rensburg, Gido en Wikus de Swardt (SPAR), raadsheer Dirk Kotzé en Herman Swanepoel (Wyk 4).
Herman Swanepoel, raadsheer Dirk Kotzé, Sonja Pelser (Skarrelhuis), Ronald Hacquebord, Annatjie Janse van Rensburg, Gwynne Harding en Cardry Pick (Mosselbaai-munisipaliteit – plaaslike ekonomiese ontwikkeling)
Sonja Pelser en Colleen Kowie by die Skarrelhuis wat help met werkverskaffing in die Groot-Brakrivier-omgewing.
Sonja Pelser en Colleen Kowie by die Skarrelhuis wat help met werkverskaffing in die Groot-Brakrivier-omgewing.
Precious Chirwa en Cheslin Moolman sit en wag vir werknemers om hul op te laai by die Skarrelhuis in Groot-Brakrivier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'