MOSSELBAAI NUUS - Die enigste ligpunt in 'n chaotiese 2020, aldus uittredende voorsitter van die Mosselbaai-besigheidskamer, dr Paul Kruger, is die organisasie se uitsonderlike skakeling met die Mosselbaai-munisipaliteit.
Die besigheidskamer het vandeesweek Dinsdag, 20 April hulle maandelikse netwerkgeleentheid asook algemene jaarvergadering gehou.
Tydens die geleentheid, aangebied deur Bahia Blue-restaurant, is 'n nuwe bestuur verkies.
"Die besigheidskamer het baie werk agter die skerms gedoen, veral om die moraal van sakelui te midde die pandemie te probeer hoog hou," het Kruger uitgebrei. Geen van die organisasie se normale jaarlikse fondsinsamelingsprojek kon egter vanweë die nasionele ramptoestand gehou word nie.
Kruger het in sy voorsittersverslag na die organisasie se verhouding met die Mosselbaai-munisipaliteit verwys as "gunstig verby" en gesê dat dit hulle deur soortgelyke organsisasies op ander dorpe beny word. Hy het ook met lof van die Wes-Kaapse regering se insette gepraat. Kruger het genoem dat verskeie mininsters besoek in die dorp kom aflê het en ook telefonies ondersteun het waar hul kon. Hy het ook gesê dat die provinsiale regering ag geslaan het op sakelui se kwelpunte.
"Die goed wat ons pla is op die agenda en word vorentoe gedryf. Dit sluit die R300 miljoen opgradering van Louis Fourie-weg wat later vanjaar begin, in. Dit mag dalk 'n tydelike frustrasie wees, maar in twee tot drie jaar gaan dit 'n pluspunt vir Mosselbaai wees."
Groter oplae
Bekroonde bemarker van die Mossel Bay Avertiser, Michelle Reyneke was die gasppreker. Reyneke het uitgewei oor die veranderinge in die media wat kliënte juis tot voordeel strek.
Nie net is die dae van gedrukte media nog lank nie getel nie, maar het gemeenskapspublikasies soos die Advertiser ook die dinamiese speelveld van die digitale media met groot sukses betree.
Sy het bevestig dat die Advertiser hul drukoplaag in April verhoog het. "In Meimaand, verhoog ons dit weer wat aandui dat besigheid gesond is."
Reyneke het gesê dat die Advertiser daarop gefokus is om plaaslike besighede op te bou en te laat groei. "Daar bestaan nie 'n ding soos one size fits all nie. Daar is kundiges wat jou kan help om daardie beplanning te doen. Ons is daardie kundiges," het sy afgesluit.
Cornelle Carstens, nuusredakteur het die redaksiespan voorgestel en bygevoeg dat die span gesamentlik bykans 80 jaar ervaring in die mediabedryf het.
"Die Advertiser is lank nie meer net 'n dorpskoerant nie. Hy staan sy skoene in die digitale wêreld vol en word dopgehou deur ander media. In die woorde van 'n plaaslike sakeman, die Advertiser was en is steeds die New York Times van Mosselbaai."
Nuwe bestuur
Die besigheidskamer se nuwe bestuur is: Lorette Grobbelaar (voorsitter), Werner Kock (onder-voorsitter), Kelly Fourie-Barnard (tesourier), René Malan (sekretaris), Fanus Truter, Johan Lochner, Denise Lloyd, Albert Wiffen, Marika Thomatos en Emile Nel.
Die redaksiespan van die Mossel Bay Advertiser Cornelle Carstens, Jannie du Plessis, Suzette Herrer (redakteur), Louise Karsten en Michelle Reyneke van die Advertiser se bemarkingsdepartement. Foto: Denise Lloyd
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'