MOSSELBAAI NUUS - Sihana van Deventer, leerder van Lighthouse Academy, het Saterdag, 14 Oktober, aan die Wes-Kaapse Sportvereniging vir Liggaamlik Gestremdes (WPSAPD) proewe in Stellenbosch deelgeneem.
Die 14-jarige atleet het in die o.17-ouderdomsgroep in die F38/T38 klas deelgeneem.
Sy verbeter die Suid Afrikaanse rekord vir spiesgooi en wen ook goud in die 100m.
Volgens Jannie Nel, afrigter van die Eden Athlete Management Services (EAMS), was dit 'n goeie naweek vir die spiesgooiers van die EAMS. Behalwe vir Van Deventer het ook Melise Moolman (D13 goud) en Lihan Lategan (S12 nuwe rekord) goed presteer by Laerskool Hartenbos se Interhuis byeenkoms.
Sihana kwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Liggaamlik Gestremdes (SASAPD) kampioenskappe in 100m, 200m en spiesgooi.
Om te verseker dat die mededinging regverdig en gelyk is, het alle Paralimpiese sporte 'n stelsel in plek wat verseker dat die wenner bepaal word deur die deelnemer se vaardigheid, fiksheid, krag, uithouvermoë, taktiese vermoë en geestelike fokus, dieselfde faktore wat sukses in sport vir atlete, wat nie gestremd is nie, bepaal. Dié proses word klassifikasie genoem, en die doel is om die impak van gestremdhede op die sportdissipline te minimaliseer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’