Video
MOSSELBAAI NUUS en VIDEO - 'n Siggestremde vrou en haar gidshond is verlede Donderdag die deur gewys by 'n plaaslike tak van die departement binnelandse sake, vanweë wat blyk, die onkunde aangaande toegangsregte van gids-, diens- en outisme-ondersteuningshonde blyk te wees.
Amanda Bester en haar ma, Diane Roets het verlede Donderdag 'n bloutjie geloop toe hulle 'n huwelikssertifikaat wou bekom en personeel van binnelandse sake die vroue, of liewer Bester se gidshond, Reo die deur gewys is.
"Ons is om 08:00 by die Thusong-sentrum eers deur die sekuritietsdame by die hek voorgekeer om te sê dat die hond nie mag ingaan nie, maar toe sy sien dis 'n gidshond, het sy ons toegelaat. By die kantoor, wou hulle glad nie die hond toelaat nie. Hoe meer ons probeer verduidelik het dat dit 'n dienshond is, hoe meer het hulle volgehou dat geen diere toegelaat word nie."
Volgens Roets het die personeel aangedring dat daar 'n groot kennisgewingbord is wat dit boonop so aandui.
"Ons het Amanda se toegangskaart van die gidshondvereniging ook gewys, maar hulle was onwrikbaar en wou nie eens daarna kyk nie."
Nadat hulle die hond ten einde raad in die motor gaan sit het, het die vroue personeellid wat hulle weggewys het om verskoning gevra aangesien dit hulle "law is dat geen diere daar mag ingaan nie", berig Roets.
'n 'Beter lewe' sedert April
Amanda Bester het in April vanjaar haar gidshond, Reo gekry. As 11-jarige het haar sig baie verswak waarna sy na 'n skool vir swaksiendes is. In die afgelope paar jaar het haar sig so versleg, dat sy 'n gidshond moes kry. Sy noem dat dit aanvanklik 'n groot aanpassing vir haar was, maar dat haar hond Reo haar lewenskwaliteit beslis verbeter het.
"Tydens die intensiewe opleiding met my hond, het ek gewonder of ek dit ooit gaan baasraak, maar die gidshondvereniging bied wonderlike ondersteuning." Die hanteerder kom na die siggestremde persoon se omgewing om daar met die hond en sy of haar nuwe eienaar te werk. Daar word ook maandeliks vorderingsverslae vereis. Sou die siggestremde enige bystand benodig, is die gidshondvereniging daar met raad en daad, vertel Bester.
"Meeste mense het Amanda en Reo al gewoond geraak, waar ons gereeld gaan, maar daar moet baie meer bewusmaking wees van die regte van mense met gidshonde," meen Diane Roets.
Volgens die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging, kan die weiering van toegang vir 'n gestremde persoon wat van 'n gids-, diens- en outisme-ondersteuningshond gebruik maak, tot menseregteskending lei en kan hierdie weiering tot klaglegging by die Menseregtekommissie lei.
Owerhede reageer
Siyabonga Gqwabes, bestuurder van die departement binnelandse sake se kantoor in die Thusong-sentrum het by navraag gesê dat sy personeel bewus is van die regte van gestremdes en bemoeienis maak om van hulp te wees. Hy het by navraag ondersoek ingestel en die voorval bevestig. Hy het gesê dat sy personeel beweer dat daar ten tye van die voorval 'n man met 'n kind was. Die kind was glo baie bang vir die hond en sy personeel het die saak probeer beredder deur die vroue te vra om die hond uit die gebou te neem. Volgens die vroue was dit nie die geval gewees nie.
Nomboniso Jika, bestuurder van die Thusong-sentrum het by navraag gesê dat sy die vroue en die hond Donderdag by haar kantoor sien verbygaan het. Sy was nie ten tye die voorval bewus van enige ongelukkigheid nie, aangesien die betrokke personeel nie aan haar rapporteer nie. Sy het gesê dat die personeel onder haar bestuur, insluitend die sekuriteitspersoneel deeglik bewus is van die regte van gestremdes wat dienshonde gebruik. Na die Advertiser sê navraag, het sy bevestig dat sy die saak weer eens met haar personeel opgeneem het om hulle te sensiteer.
"By die Thusong-sentrum doen ons ons uiterste bes om alle kliënte waardig te behandel en uitstekende diens te lewer. Dit spyt my dat hierdie voorval enigsens moes plaasvind."
Sy het die gemeenskap uitgenooi om enige onbevredigende diens aan haar te rapporteer (084 429 9906).
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'