MOSSELBAAI NUUS - Die nuutaangestelde direkteur van gemeenskapsveiligheid by die Mosselbaai-munisipaliteit, Warren Prins, sê die versterking van sigbare polisiëring, beter geïntegreerde veiligheidsdienste en groter rampgereedheid sal van sy eerste prioriteite wees.
Prins, wat op 1 Julie sy amp aanvaar het, volg Graeme Lategan op nadat hy in September 2024 uit die pos bedank het.
In ’n onderhoud met Mossel Bay Advertiser het Prins gesê hy wil die sigbaarheid van Gemeenskapsveiligheidsdienste verhoog deur die huidige operasionele ontplooiingsmodel te hersien en te optimaliseer.
Hy beoog ook om administratiewe prosesse te stroomlyn om die doeltreffendheid van die direktoraat te verbeter.
Nog ’n kernprioriteit is die finalisering en implementering van die munisipaliteit se konsepveiligheidsplan, wat volgens hom alle afdelings binne die direktoraat gemeenskapsveiligheid beter sal integreer en op mekaar afstem.

Klimaatsverandering en die toenemende risiko van natuurrampe verg volgens Prins dat die munisipaliteit voortdurend sy rampgereedheid versterk.
“Dit is noodsaaklik dat die munisipaliteit voorbereid is om vinnig en doeltreffend op enige rampverwante gebeurtenis te reageer,” sê hy.
Prins wys ook op die druk wat oorversadigde openbarevervoerroetes op verkeersveiligheid plaas indien dit nie behoorlik bestuur word nie.
Volgens hom bly dwelmverwante misdaad en bestuur onder die invloed van alkohol van die grootste veiligheidsuitdagings. “Benewens die risiko vir openbare veiligheid, het dié oortredings verreikende sosiale en ekonomiese gevolge vir gemeenskappe.”
Hy sê die direktoraat gaan die huidige personeelsterkte van verkeersdienste evalueer om toekomstige operasionele behoeftes te bepaal.
“As deel van my strategie beoog ek om meer ontwrigtende wetstoepassingsoperasies uit te voer. Dit sluit verhoogde stop-en-deursoekoperasies, strenger fokus op nakoming in die openbarevervoersektor, asook groter klem op openbare opvoeding en bewusmakingsveldtogte in.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’