Update
TUINROETE | KAROO NUUS - Hy het nie geweet dat daar nog ‘n persoon saam met hom in sy motor was nie en dit eers later die Sondagoggend van ‘n polisiebeampte gehoor.
So het Sidney Berry (25) van Groot-Brakrivier, bestuurder van die BMW waarin die 18-jarige matriekleerder van Oudtshoorn, Marilize Nortier, die nag van 22 September 2019 gesterf het, Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof getuig.
Die saak is met Berry se getuienis voortgesit nadat ‘n Art 174 ontslagaansoek van die verdediging in November 2022 deur die hof van die hand gewys is.
Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, het toe aangevoer dat hoewel hy die bestuurder van die motor was en Nortier na die ongeluk in die sloot water verdrink het, die staat nie genoegsame getuienis voor die hof gebring het om hom skuldig te bevind nie.
Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het die aansoek teengestaan omdat sy van mening is dat die staat ‘n sterk prima facie-saak teen die beskuldigde het wat tot sy moontlike skuldigbevinding op die aanklag van strafbare manslag kan lei.
“Die beskuldigde is die enigste lewende persoon wat die hof kan meedeel wat onmiddellik voor die ongeluk gebeur het, en die staat se mening is dat dit niks anders as nalatigheid was wat tot die ongeluk gelei het nie,” het Jordaan gesê.
Berry het Woensdag getuig dat Moné Rowe, ‘n vriendin van die oorledene, wie hy die betrokke dag ‘n geleentheid na Oudtshoorn gegee het, ‘n fout begaan deur te sê dat hy onverskillig bestuur en sy onveilig gevoel het.
Sy is ook die aand na die Braaikraal waar haar vriend, André Burger, as kroegman gewerk het.
Berry het ontken dat Burger vir hom ‘n Jägermeister-drankie gegee het om dankie te sê vir die geleentheid wat hy Rowe gegee het.
Volgens Berry is hy, sy vriend, Stephen Knoop en die twee Lilly-broers, die Saterdagaand saam na Braaikraal waar hy die meeste van die tyd in die geselskap van die oorledene was.
Hy het ontken dat hy op ‘n keer ‘n tray shooters gekoop het omdat hy nie finansieel daartoe in staat was nie.
Hy het erken dat hy die oorledene op haar selfoon met haar pa hoor praat het en sy gesê het dat sy die aand by ‘n vriendin op ‘n plaas in die distrik sou oorslaap. Hy het nie geweet wat die plaas se naam is nie en ook nie die naam van die vriendin gehoor nie.
Volgens hom het hy nie onderweg terug na Knoop se woning vinnig gery of roekeloos bestuur nie.
Nortier is saam met hulle weg vanaf Braaikraal en hy kan onthou dat nadat hy vir Knoop en die twee Lilly-broers afgelaai het, hy op die Kango Grotte-pad gery het, maar nie weet “wat of waarom” nie. Hy het ook getuig dat hy nie kan onthou hoe die ongeluk plaasgevind het nie.
Hy was bewusteloos en toe hy sy bewussyn in die motor herwin het hy dubbelvisie gehad. Hy het uitgeklim, na ‘n huis oorkant die pad gestap, maar nie antwoord op sy geklop aan die deur gekry nie.
‘n Motoris Leon Botha het by hom stilgehou en hom na sy huis geneem waar hy gaan stort het en is daarna teruggeneem na die ongelukstoneel.
Dit is toe dat hy van ‘n polisiebeampte, sers. Heine Jullies, verneem het dat daar iemand in die motor was.
Sy moeder het hom met toestemming van Jullies, na ‘n dokter in Oudtshoorn geneem en is daarna vir beserings aan sy gesig, kop, arm, skouer en heup na die MediClinic George geneem.
Berry het op ‘n vraag van Bans wat vir hom tot dusver die ergste was aangaande sy verhoor, geantwoord dat dit beslis die beskuldigings op sosiale media was dat hy van die ongelukstoneel “weggehardloop” het.
Die saak is Woensdag as gevolg van hoftyd wat verstreke was, vir verdere getuienis van Berry, en wel oor die klagte van versuim om by ‘n ongelukstoneel hulp te verleen, vir 22 en 23 Maart uitgestel.
Berry is uit op waarskuwing.
Lees vorige artikels:
- Berry-verhoor voortgesit
- Berry-verhoor word weereens uitgestel
- Verhoor van Berry weer uitgestel
- Berry vlugtig in die hof
- Nortier-saak uitgestel na 2021 weens COVID-19
- Nortier-saak uitgestel
- Bestuurder uiteindelik in hof
- Berry verskyn in hof
- Saak teen bestuurder begin
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'