MOSSELBAAI NUUS - Suid-Afrika het die atletiektalent, maar aandag sal gegee moet word aan aspekte soos om te luister wat die atlete se behoeftes is en om ondersteuningsprogramme in plek te kry.
Dit is die boodskap van Shireen Noble, vise-president van Atletiek Suid-Afrika (ASA) en president van Atletiek Suiudwestelike Distrikte (ASWD).
Noble, 'n inwoner van George, het verlede week teruggekeer van Boedapest, Hongarye, waar sy die Wêreldbyeenkoms bygewoon het. Ongelukkig het nie een van die 36 atlete 'n medalje huis toe gebring nie en vrae word nou gevra oor die pad vorentoe. Die Olimpiese Spele vind juis aanstaande jaar weer plaas en dié keer in Parys, Frankryk.
In 'n onderhoud met George Herald, susterskoerant van die Mossel Bay Advertiser, het sy gepraat oor wat sy in die aanloop en tydens die kampioenskappe beleef het.
Sy het eers die bestuursvergadering van Wêreldatletiek bygewoon. Dit was van 16 tot 18 Augustus in Boedapest waarna die kampioenskappe van 19 tot 27 Augustus beslis.
Norma Nonkonyana,addisionele bestuurslid van ASA, Sam Ramsamy, Suid-Afrikaanse sportadministrateur en Shireen Noble, vise-president van ASA in Boedapest Hongarye.
By die kampioenskappe is meegeding in baan- en veldnommers. Onder die deelnemers was twee atlete, Mirè Reinstorf en Jo-Anne van Dyk, wat oorspronklik van George kom.
Dit was die derde keer dat Noble 'n Wêreldbyeenkoms bygewoon het. In die verlede was sy ook al teenwoordig by Afrikabyeenkomste en die Jeug Wêreldbyeenkoms.
Daar is by haar geen twyfel dat die byeenkoms in Boedapest die beste is wat sy nog bygewoon het nie.
"Londen se kampioenskappe was goed, maar Boedapest beslis die beste. Dit was baie goed georganiseerd."
Op die vraag of sy dink Suid-Afrika sal in die toekoms so 'n byeenkoms kan aanbied, het sy gesê: "Dis moontlik, maar daar sal nog baie werk gedoen moet word. Die aanbied van so 'n geleentheid verg ordentlike infrastruktuur."
Oor Suid-Afrika se deelname aan die onlangse kampioenskappe het sy gesê natuurlik is hulle teleurgesteld. Daar was vooraf groot verwagtinge.
Die probleem is nie talent nie. Suid-Afrika beleef 'n oorgangsfase en daar is van die atlete wat vir die eerste keer aan die senior Wêreldbyeenkoms deelgeneem het. Daar het van die atlete die eerste keer teen van die groot name meegeding.
Volgens haar moet geluister word na wat die atlete se behoeftes is en ondersteuningsprogramme moet aandag kry.
Een van die uitdagings is dat die meeste Suid-Afrikaanse atlete atletiek nie as 'n voltydse beroep kan beoefen nie en nie 'n salaris ontvang nie. Daar sal moet gekyk hoe atlete op dié vlak gehelp kan word omdat suksesvolle deelname baie tyd en aandag verg.
Shireen Noble, visepresident van Atletiek Suid-Afrika en president van Atletiek SWD. Foto: Eugene Gunning
Shireen Noble, vise-president van Atletiek Suid-Afrika en president van Atletiek SWD en Mirè Reinstorf, Suid-Afrikaanse paalspringer by die kampioenskappe in Boedapest, Hongarye.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’