Gallery
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Kansa se jaarlikse Shavathon het die afgelope naweek in Mosselbaai se twee groot winkelsentrums plaasgevind.
Leerders van Hoërskool Punt het ywerig deelgeneem aan die geleentheid in beide die Langeberg en Mosselbaai Mall deur die kleurvolle spuitverfwerk op die talle ondersteuners se hare te doen.
In die Mosselbaai Mall het Veda Manie haar poniestert laat afknip om 'n pruik te help maak vir 'n kankerpasiënt.
Sy het dié emosionele stap geneem vir haar tante, Gerry Anne Prins wat die gevreesde siekte oorleef het en reeds twee jaar kankervry is.
In die Langeberg Mall het Mosselbaai se Danica Barnard, Mej Verenigde Nasie Afrika ook dié Kansa gebeurtenis ondersteun.
Kyk 'n video hieronder.
Ten spyte van die emosionele oomblik toe Veda Manie haar poniestert afgesny het, glimlag sy breed omdat sy deur dié gebaar hoop vir iemand kon gee.
Tientalle Mosselbaaiers het, benewens inkopies doen, met kleurvolle haardosse huis toe gegaan en so is die Kansa-tema van hoop vir 2018 uitgedra.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: TERSIA MARAIS, MOSSEL BAY ADVERTISER KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'