MOSSELBAAI NUUS - Sewe seuns van die Laerskool Herbertsdale het vandeesweek met trots gewys wat alles in die skool se groentetuin gebeur tydens 'n besoek van die Mosselbaai-munisipaliteit se gemeenskapsontwikkelingskantoor.
Die skool se groentetuin word ondersteun deur 'n organisasie in België genaamd D.R.O.P.S. (Direct Relief of Poverty and Sick) wat sopas 'n verdere skenking aan die projek gedoen het.
Die organisasie het die afgelope vyf jaar in samewerking met die Mosselbaai-munisipaliteit, minstens vier sosiale projekte tot stand gebring. Dit sluit in twee projekte met betrekking tot e-sentrums in Vleesbaai en Buisplaas in, en dan die groentetuine in Ruiterbos en Herbertsdale.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het samesprekings met die skoolhoof, Daniël Titinger, en die implementering van die projek namens D.R.O.P.S. gefasiliteer. Die munisipaliteit sal by wyse van gereelde besoeke die projek ondersteun.
Die seuns wat tans in die tuin werk, is in grade 6 en 7.
"Ons is baie dankbaar vir hierdie skenking en projek aangesien dit ons leerders blootstel aan vaardighede buite die skoolkurrikulum. Sodoende word hulle die geleentheid gegun om ook elders uit te blink."
Plaaslike D.R.O.P.S.-amabassadeur, die hoof van Mosselbaai brand-, redding- en rampbestuursdiens, Joseph Johnston, het die jonges uitgevra oor hulle toekomsdrome en om landbouers te word, was 'n prominente keuse.
Johnston het die jonges tydens sy praatjie aangemoedig om groot te droom en die netwerke rondom hulle, soos onder meer die groentetuinprojek, te gebruik om hul drome na te jaag. Hy het ook verduidelik dat die projek gerugsteun word deur 'n skool in België wat die behoefte aangedui het om Laerskool Herbertsdale finansieel met projekte ondersteun. 'n Fondsin-samelingsgeleentheid wat deur die Belgiese skool gehou is, het finansieel bygedra tot die skenking wat vandeesweek oorhandig is. Daar is ook sprake dat dié twee skole oor die langtermyn met mekaar sal skakel.
Personeel van die direktoraat gemeenskapsdienste se kantoor vir gemeenskapsontwikkeling, het die oorhandiging gereël en sal voortaan vir die kontakbesoeke verantwoordelik wees om die tuin se vordering te monitor.
"D.R.O.P.S. is baie bly dat die projek gegroei het van 'n skenking na 'n mooi verhouding tussen twee skole, so ver van mekaar en verteenwoordigend van twee verskillende kulture – watter verrykende ervaring," het Harry en Marianne Graff in hulle brief aan die skool, wat tydens die oorhandiging voorgelees is.
Die onmiddellike doelwit is dat die groentetuin die skool se koshuis van vars produkte sal voorsien.
Joseph Johnston (D.R.O.P.S-ambassadeur) saam met die skoolhoof van Laerskool Herbertsdale, Daniël Titinger.
Die skenking aan Laerskool Herbertsdale se groentetuin is danksy samewerking tussen D.R.O.P.S en die Mosselbaai-munisipaliteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’