MOSSELBAAI NUUS - Dertien vullissakke later, kan Mosselbaai-inwoner, Koot Steenkamp weer met ‘n geruste hart in sy dorp draf of rondry.
Steenkamp het vroeër vandag in ‘n Facebook-plasing gesê hy skaam hom bietjie vir hoe dit op Louis Fourieweg tussen Engen De Bakke en Dias lyk.
Hy is egter nie een wat handjies gevou sit en kla nie.
“Ek het dit klaar aan die munisipaliteit rapporteer, maar aangesien dit nou ‘n vakansiedag is, gaan ek en my vrou [Chanelle] gou bietjie daar opruim,” het hy in sy plasing gesê.
Hy het enigeen wat wou help genooi om 11:00 by die Engen-vulstasie bymekaar te kom vir die groot skoonmaak en om 14:00 terugvoering in dieselfde plasing gegee.
“Dankie vir die dame (Lynn) wat ons kom help het. Ons het toe altesaam 13 sakke vol vullis kon optel tussen die drie van ons in drie ure.
“Daar is een van ons besigste toeristeroetes nou weer mooi skoon, met amper geen moeite, en ons kon darem gister se Kersete afwerk. En dankie aan die kêrel wat gestop het om vir ons water en koeldrank te gee.”
Steenkamp is al vir jare ‘n Mosselbaaier en het in 1994 by Hoërskool Punt matrikuleer.
“Ek weet dit is iemand anders se verantwoordelikheid, maar as Mosselbaaier is ek te trots om ons dorp so te wys aan die 10 000 mense wat elke dag hier verby ry. Hopelik stel dit ‘n voorbeeld wat dalk deur die gemiddelde Mosselbaaier nagedoen kan word.
"Gemeenskapsbetrokkenheid is al antwoord tot ons pragtige dorp se blink toekoms. Ons is groot ondersteuners van die munisipaliteit en amptenare, maar voel dit is steeds elke inwoner se plig om Mosselbaai trots en eerlik te hou, soos dit nog al die jare was.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’