MOSSELBAAI NUUS - Die eienaar van 'n kuierplek in Franslaan, Civic Park, waar die jongste besigheidsroof op Sondag, 13 Oktober plaasgevinnd het, het minder as 'n week tevore die munisipale kantore besoek om navraag te doen oor die hersonering van sy besigheid.
Henry Mouers, wat die Real Star Tavern die afgelope agt jaar besit, het besluit, in die lig van misdaad in die omgewing, dat hy sy besigheidsmodel wil aanpas as 'n teenvoeter vir boosdoeners.
Tydens Sondag se besigheidsroof by die kuierplek, is 'n 14-jarige seun oor wie Mouers hom die afgelope jaar of wat ontferm gewond toe die rowers glo per ongeluk 'n skoot met een van hulle vuurwapens afgevuur het.
Die seun is volgens inligting in die lae rug gewond en is vir behandeling opgeneem in die George provinsiale hospitaal. Teen druktyd was inligting oor sy toestand nie beskikbaar nie.
Personeel van die kuierplek vertel dat die rowers teen toemaaktyd omstreeks 20:20 glo kom bier vra het. Toe hulle die deur gewys is, het dinge vinnig gebeur. In 'n oogwink het vier onbekende mans, sommige met klapmusse aan, die kuierarea binnegekom. Drie van die mans het vuurwapens by hulle gehad.
Die vermeende rowers het twee personeellede, 'n man en vrou, die eienaar se 18-jarige dogter, asook twee minderjarige kinders, onderskeidelik 14 en 16 jaar oud, wat op die perseel was, beveel om op die grond te gaan lê, waarna hulle kontant geëis het.
In die proses, is Avril Muller, 'n werknemer, deur een van die rowers met 'n vuurwapen teen die kop geslaan. 'n Skoot is toe per ongeluk afgevuur wat die 14-jarige seun in die lae rug getref het. Die rowers het met 'n kontantbedrag gevlug.
Hersonering
"Toe ek 'n uur later hier aankom, het die ander seun steeds gesit en huil van skok," het die eienaar van die besigheid, Henry Mouers vandeesweek tydens die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die perseel vertel. Mouers se woning is ook op die perseel gebou.
Hy vertel dat hy huisvesting en etes bied aan die twee minderjarige seuns wat ook slagoffers tydens die rooftog was.
Mouers sê dat hy die afgelope tyd toenemend bekommerd is oor wat ná sluitingstyd met sy kliënte gebeur. "Mense word geroof as hulle hiervandaan huis toe gaan."
Mouers sê dat hy juis daarom lankal reeds besluit het om aansoek om die hersonering van sy besigheid te doen. "Die moeiliheid kom ná twaalf as mense huis toe loop.
"En hulle roof nie hier voor my in die straat nie. Hulle lê dáár om die hoekies. Daarom wil ek eerder 'n kantien of 'n koop en loop bedryf."
Mouers reken op hierdie manier bied hy nie sitplek waar mense ure lank kan vertoef nie en boonop, is sy besigheidsure dan ook meer gunstig om misdaad teë te werk. "In die week sluit ek dan agtuur en Sondae, vyfuur. Somertyd is dit nog lig dan."
Mouers het op Dinsdag, 8 Oktober met amptenare van die Mosselbaai-munisipaliteit vergader om sy voorneme bekend te maak.
Hy het ook 'n petisielys met 200 handtekeninge saamgestel van lede binne die onmiddellike gemeenskap wat die voorneme vir hersonering ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'