GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Groot-Brakrivier se polisiewoordvoerder, sers. Lauriane Botha, is onlangs met die Mother to All-toekenning vereer.
Dié toekenning is op 10 Mei deur The Myrtle Tree NPO, 'n organisasie wat enkelmoeders ondersteun, by sy jaarlikse Moedersdag-viering aan haar oorhandig.
Die organisasie se stigter, Berenice Kogana, sê hulle wil graag die toekenning 'n jaarlikse instelling maak.
Volgens Kogana het hulle meer as 70 nominasies ontvang, en meer as die helfte daarvan was vir Botha.
"Almal in die gemeenskap het dieselfde gesê, hoe sy vir die gemeenskap omgee en vir almal uit haar pad uit gaan. Hulle sê hulle kan enige oomblik van die dag of nag met haar kontak maak."
Botha sê sy het nie besef hoeveel mense in Groot Brak na haar opkyk nie.
"Toe ek die erkenning kry, was dit heeltemal vir my 'n skok gewees in die sin dat ek dit nie verwag het nie. Ek weet ek gaan uit my pad uit, maar net die respek wat die gemeenskap vir my en wat ek doen het, het my verbaas.
"As 'n enkelmamma met drie pragtige seuns voel ek baie trots op die erkenning in die groter Mosselbaai. Ek is baie trots op myself, want dit kos ook maar baie om alles te doen."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’