Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamakop-polisie het een van hulle geliefde "lede" verloor. Sersant Wiggles, 'n steekhaarbrakkie van D'Almeida is verlede naweek dood.
Die Mossel Bay Advertiser het in die onlangse verlede berig oor Mosselbaai-polisiestasie se kolonel Tiger, 'n strepieskat wat behoorlik sy intrek in die speurders se kantoor gemaak het. So het die kolonel ook al 'n paar keer vir konsternasie gesorg wanneer hy van tyd tot tyd verdwyn om te gaan kattemaai.
By Da Gamaskop, was sers Wiggles of Wikkels weer die oogappel.
Reeds vir die afgelope paar jaar, ontferm lede van die stasie hulle oor van die honde in die D'Almeida-woonbuurt waar die polisiekantoor geleë is.
Sers Wiggles, oftewel Steffie soos haar eintlike eienaar haar genoem het, was egter 'n gereelde gesig by die stasie. Soveel so dat sy sommer so op 'n ad hoc-basis deur die lede aangeneem is.
"Wiggles het elke oggend kom aanmeld vir diens. So 'n paar van ons het altyd vir haar ietsie lekkers gebring om te eet," vertel adjudant-offisier Marizanne du Plessis, wat besonder lief vir Wiggles was.
FOTOGALERY: Da Gamaskop polisie neem afskeid van sersant Wiggles
Wiggles het dan behoorlik, al stertswaaiende, haar rondtes van kantoor tot kantoor gedoen - agter lekkernye, liefde en 'n lêplekkie aan. Dis blykbaar juis daardie swaaiery wat aanleiding tot die naam gegee het.
Tydens besoeke aan die stasie, het die Advertiser ook die voorreg gehad om sers Wiggles te ontmoet.
Wiggles se grootste heldedaad was toe sy 'n rot in Du Plessis se kantoor gevang het.
"Die rot het sulke behoorlike tande gehad, maar Wiggles het net nie laat los nie en is toe ewe trots met die stertjie in die lug daarmee by die deur uit."
Dit is onseker wat presies tot Wiggles se dood gelei het, maar sy was glo al goed grys om die bek.
"Wiggles het 'n soort fit gekry. Die DBV het kom help, maar sy was reeds breindood. Hulle kon niks vir haar doen nie," berig Du Plessis.
Soos dit volgens "protokol" hoort in die geval van 'n geliefde kollega, is Wiggles behoorlik vereer. Sy het nie net baie liefde nie, maar ook 'n haar laaste rusplek by die stasie gevind, waar 'n kruis opgerig en 'n huldeblyk aangebring is.
Sers Wiggles, oftewel Steffie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'