MOSSELBAAI NUUSFLITS - Sekuriteitsbeamptes van 'n spoglandgoed op Mosselbaai het vroeg vanoggend op die erg ontbinde oorskot van 'n vrou (46) in haar huis afgekom.
Volgens inligting ontvang van die KwaNonqaba-polisie het die vrou, wat alleen gewoon het, sowat 'n maand gelede laas per Whatsapp met ander persone op die landgoed kontak gehad.
Nadat ander inwoners oor haar navraag gedoen het, het die landgoed se sekuriteitsbeamptes die vrou se woning besoek. Hulle het die deur van die woning oopforseer en op die vrou se oorskot afgekom.
Die vrou word deur haar ma, wat in Durban woon, oorleef. Sover bekend, is dit haar enigste naasbestaande.
Die KwaNonqaba-polisie het 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen en forensiese personeel is tans op die toneel vir verdere ondersoek.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'