MOSSELBAAI NUUS - Dominee Henri Meyer, leraar van die NG Kerk Mosselbaai Moedergemeente, sal op 21 April aan die vol Ystermankompetisie deelneem in Port Elizabeth.
Dit bestaan uit 3,8 km swem, 180 km fietsry en 42,2 km draf. Dean Bentley, die jong studente-leraar gaan in Junie aan die Comrades deelneem vir dieselde doel. Beide gaan hierdie moordende uitdagings aanpak om geld in te samel vir die Seewind-projek.
Die Seewind-projek is 'n projek van die gemeente, wat saam met vyf ander gemeentes weekliks 'n kerkdiens en 'n gesonde bord kos aan haweloses gee. Die geld wat ingesamel word sal uitsluitlik aangewend word om dié projek te finansier.
"Ons glo dat niemand op straat moet slaap nie," sê Meyer. Hierdie aksie vind weekliks op 'n Dinsdag om 11:00 plaas by die Haven nagskuiling op Mosselbaai. "Die doel van die aksie is om mense met liefde en deernis te probeer help," sê hy. Daar is reeds drie mense die afgelope tyd vanuit die Seewind-bediening in die skuiling opgeneem.
Die Haven nagskuiling se doel is om mense weer in die samelewing te integreer." Indien iemand meer inligting verlang kan hulle die kerk se rekening besonderhede of die leraars se kontak besonderhede kry deur die kerkkantoor by 044 691 2465 te skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’