MOSSELBAAI NUUS - ‘n Span van die Two Oceans-akwarium in Kaapstad het die afgelope naweek 'n inligtingsessie oor seeskilpaaie by die by die Dias Museum op Mosselbaai aangebied.
Hoekom spoel klein karet-skilpaaie (loggerhead) op ons strande uit?
Dit het alles te doen met seestrome.
Die skilpaaie broei uit aan die kus van KwaZulu-Natal en beweeg dan suidwaarts in die warm Agulhasstroom.
In die omgewing van die Suid-Kaap beweeg die Agulhasstroom weer effens opwaarts en die skilpadjies beland dan in kouer water waaraan hulle glad nie gewoond is nie.
Wanneer hulle op ons plaaslike strande uitspoel is hulle meestal hipotermies en baie swak en is hulle ook bedek met alge en ander organismes.
Wat om te doen wanneer 'n skilpad op die strand gevind word
Kontak die Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) by 072 227 4715 of die Dias Museum (044 691 1067).
Moenie die skilpad terugplaas in die see of in ‘n houer met water nie.
Plaas die skilpad op ‘n klam lap of handdoek in ‘n plastiese houer soos 'n roomysbak.
Maak luggate in die deksel en hou by kamertemperatuur totdat die skilpad gehaal word.
Moenie die skilpad probeer voer nie en hanteer dit so min as moontlik.
Wat gebeur met die skilpaadjies?
Die skilpaaie word by die Dias Museum of by die Hartenbos Dierehospitaal aangehou waar hulle gestabiliseer word.
Sodra hulle sterk genoeg is, word hulle na of Two Oceans-akwarium in Kaapstad, of Bayworld in Port Elizabeth gestuur waar hulle gemonitor en behandel word.
Hulle word dan later as ‘n groep weer in die Agulhasstroom vrygelaat.
Alle seeskilpaaie is bedreigde spesies en mag onder geen omstandighede in privaat besit aangehou word nie.
Spesiale permitte is nodig om hulle te hanteer en in Mosselbaai is dit slegs die Dias Museum en dr Frans de Graaff (Hartenbos Dierehospitaal) wat met hulle mag werk.
Vrywilligers van S.M.A.R.T. beskik oor die nodige opleiding en kennis om die skilpaaie te hanteer en na een van bogenoemde fasiliteite te neem.
Klein karet seeskilpaaie kan nou enige tyd op ons plaaslike strande uitspoel.
Die Two Oceans-span het ook 'n aantal roomysbakke by die Dias Museum gelaat om skilpaadjies in te plaas.
Diegene wat gereeld op die strande beweeg, wees asseblief voorbereid daarop om 'n skilpaadjie raak te loop.
Afgesien van al die natuurlike hindernisse wat die skilpaaie in hulle vroeë stadiums moet oorkom soos voëls en ander predatore, word hulle gereeld deur skepe getref.
Een van die grootste oorsake van skilpadgetalle wat kommerwekkend afneem, is plastiese produkte in die see.
‘n Plastieksak wat in die water dryf word maklik as 'n jellievis aangesien wat een van hulle hoof voedselbronne is.
Wanneer hulle dan hierdie sakke eet, bou gasse in hulle ingewande op wat veroorsaak dat hulle nie normaal kan eet nie en ook nie kan afduik na hulle voedselbronne nie.
Hulle dryf dan op die oop see waar hulle beseer word deur skeepsverkeer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'