MOSSELBAAI NUUS - Die Seemeeupark-gemeenskapsveiligheidsforum (GVF) se lede en ander rolspelers het hulself behoorlik mooigemaak vir hul eerste gala-geleentheid.
Die voorsitter van dié GVF, Quintin Greyling, het gesê die doel van die aand (op November aangebied) was om erkenning te gee aan diegene wat op 'n buitengewone wyse hul bereidwilligheid en betrokkenheid aan die GVF getoon het.
'n Groot deel hiervan is betrokkenheid by voorkomingsinisiatiewe soos patrollie-ry.
"Vir die doel het ons bestuur besluit om erkenning te gee aan die top patrollielede gebaseer op die hoeveelheid patrollieskofte wat deur die jaar, oor 'n sekere tydperk, opgeneem is."
Sien 'n galery hier: Seemeeupark GVF uitgevat vir gala-aand
Dié lede is Bets en Martiens Fourie, Yolande Botha, Francois Botha sr, Marlie Greyling, Willie van der Merwe, Francois Botha jr en Gert en Anita du Preez.
Uit hierdie groep is daar dan ook 'n top manlike en 'n top vroulike patrollielid erken. Die eer het aan Willie van der Merwe en Yolande Botha gegaan.
Greyling sê tydens die beplanning van hul gala-aand is dit ook op sy hart gedruk om erkenning te gee aan 'n uitsonderlike persoon wat regdeur die jaar op grond van spesifieke kriteria, onder meer buitengewone betrokkenheid, lojaliteit, bereidwilligheid en leierseienskappe openbaar het. Hiervoor het hulle die Quintin en Marlie Greyling Wisseltrofee in die lewe geroep.
Willie van der Merwe het dié toekenning ontvang.
GVF-lede, gemeenskapsveiligheids-forumlede, raadslede, die burgemeester, Dirk Kotzé, asook lede van plaaslike wetstoepassing was by die aand teenwoordig. Greyling het elkeen hartlik bedank vir hul teenwoordigheid en ook die getroue ondersteuning wat hulle aan die GVF bied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’