Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Kusbewoners sien dikwels 'n groep mense in geel reflektor-baadjies wat besig is met seediere wat op die strand uitgespoel het.
Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) het die afgelope 10 dae, vier gevalle gehad waar hulle seediere wat op die strand uitgespoel het, moes hanteer.
Val Marsch een van die stigterslede van S.M.A.R.T., sê in dié geval het hengelaars hulle laat weet van 'n dolfyn wat Vrydag, 24 Februarie op Klein Brak se strand uitgespoel het.
"Dit is belangrik dat mense ons kontak al is die seedier reeds dood, want ons het 'n ooreenkoms met die Mosselbaai-munisipaliteit dat hulle die diere begrawe. In die geval van walvisse en dolfyne moet ons die diere dissekteer en monsters neem vir navorsing wat deur dr Greg Hofmeyer by Bayworld Oceanarium gedoen word."
Marsh vra dat mense nie net moet inbel nie, maar die plek waar die seedier uitgespoel het, moet identifiseer deur 'n pin location te stuur. Dit bespaar baie tyd om by die dier uit te kom, al is hulle reeds dood. Die kontaknommer is 072 227 4715.
FOTO'S: S.M.A.R.T. ondersoek seediervrektes
Klein seeskilpaaie
Dit is nou die uitbroei-seisoen vir seeskil-paaie in Natal wat dikwels in die sterk Agulhas-seestroom beland en op ons strande uitspoel. Die skilpaaie kan nie swem nie en vries van die koue.
Die publiek word versoek dat as hulle een sien, hulle dit asseblief nie in die water moet terugsit nie. "Sit dit in 'n klein boksie met 'n droë lap of handdoek onder in en laat ons weet. Hulle word dan geneem na rehabilitasie-sentrums by Bayworld in Gqueberha en Two Oceans in Kaapstad," versoek Marsh.
Klein robbe
"Ons kry nou ook baie black pups/klein robbe wat gewoonlik by Diasstrand uitspoel en reeds dood is. Hulle is in November en Desember op Rob-eiland gebore en die ma's gaan uit om kos te soek. As gevolg van sterk golwe beland hierdie pups partykeer in die water. Omdat hulle nog nie kan swem nie, sterf hulle baie keer van die koue, want hul pelse is nog nie waterdig nie. Ons vermoed dat veranderende weerstoestande daartoe lei dat die ma-robbe langer wegbly om kos te kry en die kleintjies te lank alleen gelaat word."
Aggressiewe rob-gedrag
Marsh vertel dat hulle bekommerd is oor robbe se toenemende, ongewone aggressiewe gedrag. "Aanvalle het eers net aan die Weskus voorgekom, maar ons het ook ons eie voorvalle hier by Die Punt gehad. Die afgelope naweek is 'n pa en sy seun wat by Melkbosstrand branderplank gery het, ook deur 'n rob aangeval en gebyt. Iets is definitief verkeerd. Ons waarsku ons vrywilligers en die publiek om weg te bly van robbe. Hulle lyk lumpy and clumsy, maar beweeg baie vinnig."
Volgens Marsh kan die aggressiewe gedrag moontlik toegeskryf word aan myopic poisoning, maar wetenskaplikes is nog nie seker nie.
Dis 'n intensiewe proses om die breine en organe van die seediere uit te sny en dit dan oorsee te stuur vir verdere toetse om vas te stel wat dié vreemde gedrag veroorsaak.
S.M.A.R.T.
S.M.A.R.T. het ses jaar gelede begin toe 'n baie groot walvis in die winter in die mond by Groot-Brakrivier uitgespoel het.
Marsh vertel dat daar geen protokol was oor hoe om in so 'n situasie op te tree nie. Verskeie organisasies het bymekaargekom en S.M.A.R.T. is begin saam met dr Frans de Graaff van die Hartenbos Dierekliniek wat gratis dienste aan S.M.A.R.T. lewer.
S.M.A.R.T. is 'n vrywillige organisasie wat vanaf Gouritsmond tot by Wildernis werksaam is.
VIDEO - Val Marsh van S.M.A.R.T tells more about the important work that they do:
VIDEO - Val Marsh from S.M.A.R.T:
Lede van S.M.A.R.T. besig met die ondersoek en disseksie van 'n dolfyn wat op die Klein Brak strand uitgespoel het. Val Marsh, Michele Heyes, Louis Steyn en Magda Maritz.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'