Video
mosselbaai nuus - Covid-19 het almal onkant betrap en in baie oorde krisisse veroorsaak.
Aan die ander kant het dit gemeenskappe bedag gemaak op aspekte wat in gebreke gebly het in die mensdom se gejaag na vooruitgang, om vir hulself te sorg en aan die lewe te kan bly.
"Dit is om hierdie redes dat voedsel-sekerheid en om selfversorgend te wees, twee van die aspekte was wat die Langsous ATKV-tak in 2020 as prioriteite vir hul jaarbeplanning vir die jaar in die vooruitsig gestel het," sê Claire du Plessis, voorsitter van dié tak op Mosselbaai. "Om goed te kan lees, kan jou tot 'n groot mate selfversorgend maak omdat jy jouself kan leer en nuwe kennis en vaardighede bekom," sê Du Plessis.
Verlede maand het die tak op boeke en leesvaardigheid gefokus: Twee aspekte wat tydens die pandemie baie in die kollig was, aangesien ouers en leerders se blootstelling aan leesmateriaal en hul leesvaardighede tot die uiterste beproef was toe leerders hoofsaaklik op self- en tuisstudie aangewese was.
LEES: ATKV woeker met woorde by skole
Hierdie maand het die tak met 'n werskwinkel afgeskop wat tuinbou-opleiding aan die plaaslike gemeenskap gebied het. Die ATKV, in samewerking met Seed2Harvest, poog om gemeenskappe te help om organiese tuine te vestig en sodoende taklede, maar ook lede van gemeenskapsorganisasies, kerke, sopkombuise en crèches het die opleiding bygewoon en waardevolle inligting ingewin.
Kyk 'n video hieronder:
Shaun Cairns het met sy aansteeklike passie en entoesiasme die opleiding aangebied en alle kursusgangers geïnspireer en aangespoor om meer organies na hulle tuine en tuinboupraktyke te kyk.
Du Plessis het dank uitgespreek aan die ATKV, maar veral hulle wonderlike streeksbestuurder, Elda Kruger, asook besondere dank en waardering aan Hoërskool Sao Bras en Tao Tao-crèche vir die gebruik van hulle fasiliteite om die opleiding aan te bied.
Kursusgangers tydens die Seed2Harvest-kursus wat op die perseel van by Tao Tao-crèche aangebied is. Foto: Jannie du Plessis
Aanbieder van die Seed2Harvest kursus, Shaun Cairns verduidelik aan jonk en oud hoe om volhoubaar selfversorgend te wees. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'