Op Maandag 30 Mei, het die week se program begin met ‘n gesamentlike projek wat in die Garden Route primêre skool in Kwanonqaba se skoolsaal aangebied is. Die immer-gewilde "Capt Crime Stop" en Tannie Phia met haar poppekas het die kinders toegespreek. Die betrokke leerders is ingelig rondom kinderregte en -misdade.
Leerders van Vleesbaai sowel as Buffelsfontein het ook hierdie sessie bygewoon.
Later gedurende die week is ‘n projek in die NG-kerksaal op Herbertsdale gehou wat deur sowat 140 kinders van Herbertsdale en die omliggende plase bygewoon is. Sers(v) Pedro van Kwanonqaba SAPD, Tannie Phia saam met Babbels en me du Toit van die NG-kerk het die kinders toegespreek.
Die volgende besoek was by Laerskool Buffelsfontein, wat ook kinders van Vleesbaai Primêr ingesluit het. Sers(v) Pedro en Tannie Phia het weer met die sowat 90 kinders gesels. Hulle is gewaarsku in verband met die betrokkenheid van kinders by misdaad en ook teen misdrywe waarvan kinders die slagoffers is. Die kontakbesonderhede van die SAPD is beskikbaar gestel en daarna is lekkergoedpakkies uitgedeel.
Die terugvoering vanuit die gemeenskap was baie positief en die oorwegende gevoel is dat sulke projekte op ñ gereelde grondslag moet plaasvind. Die jeug is immers die toekomstige leiers van ons land.
Die SAPD bedank die onderskeie skoolhoofde wat hul leerders toegelaat het om die verskeie geleenthede by te woon.
Baie dankie ook aan Sers(v) Pedro, mev Redman me du Toit en mnr Brian James wat hulle tyd opgeoffer het ten einde 'n verskil in kinderlewens te maak.
.jpg)
Leerders wat in die landelike gebied van die Kwanonqaba SAPD-sektor skoolgaan, het die verskeie sprekers baie geniet.