Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die waardes waarmee vier polisielede die gemeenskap van Mosselbaai oor die jare voor hul onlangse aftrede bedien het, was Maandag in die kollig toe die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal hulde gebring het aan die gesindheid en goeie samewerking wat oor die jare weens hul toewyding tussen die munisipaliteit en polisiediens geheers het.
Burgemeester Levendal het sy dank en waardering uitgespreek teenoor kol Una Saayman, lt kol Albert Haggard, kapt Tekkie van Rensburg en kapt Frikkie Lukas, oud-bevelvoerder van die Seegrens-eenheid vir die wyse waarop hulle leiding geneem en uitstekende verhoudinge met die munisipaliteit, buurtwagte, die gemeenskapspolisiëringsforum en gemeenskap tot stand gebring en gehandhaaf het.
"Julle vertrek uit die aktiewe diens het 'n groot leemte gelaat, maar ons is seker dat julle ook in raadgewende hoedanigheid steeds jul meer as 160-jaar gesamentlike ondervinding tot voordeel van die gemeenskap sal aanwend," het die portefeuljevoorsitter vir veiligheid, raadslid Anton Dellemijn benadruk.
"Ek kan net met groot lof praat van die goeie samewerking wat tussen die munisipaliteit en die polisiediens bestaan, en julle bedank vir die effektiewe leiding en voorbeeld wat julle dienstermyne kenmerk," het die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee gesê.
Die voorsitter van die Mosselbaai Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Leon van Dyk, het ook sy dank uitgespreek vir die goeie wyse waarop kundigheid en ervaring die onderskeie buurtwagte tot voordeel was.
Kolonel Una Saayman het vertel dat sy in al haar jare in die polisie dit nog nooit beleef het dat munisipale beamptes of raadslede so betrokke is by die hantering van gemeenskapskwessies nie.
"Nooit in al die jare het ek dit beleef dat 'n munisipale bestuurder tydens optogte of betogings met oproeriges praat of tussenbeide tree nie.
Hier in Mosselbaai het ek vir die eerste keer opgemerk dat die munisipaliteit en veral die munisipale bestuurder voor loop wanneer gemeenskapskwessies aandag moet kry."
Sy het verwys na oproerigheid vroeër vanjaar op Louis Fourieweg toe die pad kortstondig gesluit is weens oproerigheid en toe adv Giliomee persoonlik met die oproeriges onderhandel het om geskille by te lê.
Kaptein Tekkie van Rensburg het gesê hy weet nie van 'n vorige geleentheid waar enige munisipaliteit erkenning gegee het aan die opofferinge en onbaatsugtige diens van polisielede nie, en het sy waardering vir die munisipaliteit se gebaar uitgespreek.
Ook lt kol Albert Haggard, voorheen bevelvoerder van die Mosselbaai-polisie, het benadruk dat die munisipale leierskap steeds op hul knoppies kan druk vir raad en bystand. "Ek is steeds trots op die blou uniform en die lede wat saam met my diens aan die gemeenskap gelewer het. Respek vir ander bly die basis vir goeie samewerking en dienslewering."
Met 160 jaar se gesamentlike ondervinding in polisiëring en veiligheid, het vier polisielede wat onlangs afgetree het, 'n enorme bydrae gemaak tot die samelewing in Mosselbaai. Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal (sittend), raadslid Anton Dellemijn (links), die munisipale bestuurder adv Thys Giliomee (derde van regs) en die uitvoerende bestuurder strategiese dienste, Colin Puren (tweede van links) het Maandagoggend, 29 April hulde gebring aan kol Una Saayman, lt kol Albert Haggard (links van Saayman), kapt Tekkie van Rensburg (regs) en kapt Frikkie Lukas (tweede van regs), oud-bevelvoerder van die Seegrens-eenheid. Derde van links is Leon van Dyk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'