MOSSELBAAI NUUS - Verlede Dinsdag, 2 Oktober het verskeie rolspelers 'n intense gesprek gevoer aangaande die vestiging van 'n sosiale innoveringsinisiatief wat die gemeenskap van Greenhaven, Groot-Brakrivier sal bevoordeel.
Die projek staan tans bekend as CariBuntu, totdat die organisasie, aldus pastoor Leon Prinsloo van die AGS Greenhaven, een van die vennote in die projek, op 'n naam besluit.
Tydens die byeenkoms is 'n loodskomitee saamgestel wat by die verder implementering van die projek betrokke sal wees.
Een van die groot vraagstukke onder bespreking was die kwessie van werkloosheid wat algemeen onder gemeenskappe van Groot-Brakrivier voorkom. Nouer samewerking tussen gemeenskappe en die rolspelers betrokke by hierdie sosiale innoveringsinisiatief is voorgehou as 'n stap in die regte rigting.
Professor Erwin Schwella van Universiteit Stellenbosch se Skool vir Openbare Leierskap, het hierdie konsep tydens die Mosselbaai Besigheidskamer se gesprek oor effektiewe aftrede in Augustus bekend gestel toe hy van die sakelui en senior burgers in die gehoor gemotiveer en uitgedaag tot "toetrede" tot die ekonomie deur hulle breinkrag te mobiliseer.
Hy het onder meer gesê dat seniors deur toetrede 'n daadwerklike impak kan hê op van Suid-Afrika se grootste vraagstukke, onder meer armoede, ongelykheid en werkloosheid. Professor Schwella was ook die hoofspreker tydens die loodsgeleentheid.
Pastoor Johnathan Prins, voorheen 'n dwelmverslaafde en -verspreider in die Groot Brak-omgewing se getuienis oor sy ommekeer, het ook groot indruk gemaak. Ander sprekers het ook 'n insiggewende bydrae tot die program gelewer.
Kwessies aangaande werkloosheid onder die gemeenskap van Groot-Brakrivier was onder die loep tydens die loodsing van CariBuntu, 'n sosaile innoveringsinisiatief.
"Dit was 'n baie vrugtevolle gesprek. Ons is dankbaar vir diegene wat in die inisiatief ingekoop het. Dit sluit in die Universiteit van Stellenbosch, die Mosselbaai-munisipaliteit, verteenwoordigers van gemeenskapsveiligheid, asook lede van ons geloofsgemeenskap en ander gemeenskapsleiers. Ons dank ook aan alle borge wat die geleentheid ondersteun het," berig pastoor Leon Prinsloo.
Die loodskomitee kom weer in November byeen. Die prototipe van hierdie sosiale innnoveringsmodel word op Groot-Brakrivier getoets met die oog daarop om dit in ander gemeenskappe te dupliseer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'