GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Samewerking, samewerking en nogmaals samewerking! Dít is die hoeksteen van gemeenskapveiligheidsorganisasies en die polisie se gesamentlike suksesse.
So sê Kobus Kuyler, van die Groot Brak GPF en Misdaadforum voorsitter asook Dewald de Kock, Outeniqualand Plaaswag se voorsitter.
Beide is voormalige polisielede met jare se ondervinding agter die blad.
Hulle het die afgelope week hul dankbaarheid teenoor die gemeenskap betuig vir die daarstelling van befondsing om kommunikasie sisteme tussen gemeenskapveiligheidsorganisasies soos buurtwagte, plaaswagte, GPFs en die polisie in plek te kry.
Hulle het ook veral die Groot-Brakrivier polisie bedank en geloof vir hul harde werk ten opsigte van misdaadbekamping en hul bereidwilligheid om met gemeenskapsorganisasies saam te werk ten einde die gemeenskap se veiligheid te prioritiseer.
Stasiebevelvoerder op Groot Brak, Kaptein Francois Henzen, het bevestig daar is tans uitstekende samewerking en die polisie is uiters afhanklik van dié organisasies. Hy sê ook daar is altyd plek vir nog lede by die buurtwagte.
"Daar is baie buurtwaglede wat baie tyd en toewyding opoffer om die gemeenskap veiliger te maak, waarvoor ons oneindig dankbaar is."
Kuyler, De Kock en Henzen het 'n beroep gedoen op gemeenskapslede vanuit alle dele van Mosselbaai se omliggende areas om aan te sluit by plaas- en buurtwagte. Dié organisasies se sukses is grootliks afhanklik van die gemeenskap om hul oë en ore te wees en te kommunikeer wat hulle sien.
Een ding wil Kuyler en De Kock vir die gemeenskap asook enige kwaaddoeners duidelik stel: Hulle is in die Groot Brak omgewing, maar hulle weet wat oral aangaan deur middel van gesofistikeerde kommunikasie sisteme - van die Tuinroete tot in ander dele van die land.
Kobus Kuyler, Jacques Louw en Kaptein Francois Henzen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’