MOSSELBAAI NUUS - Ouers het vandeesweek weer eens in Sonskynvallei vergader rakende hulle kwessies rondom skoolgeld by Laerskool Hartenbos.
Dit volg na 'n vergadering wat op 27 Januarie gehou is, waartydens ouers terugvoering op 11 vrae versoek het. Hieronder is die proses van kwytskelding prominent genoem, asook die kommuinkasieproses oor finansies en die oorhandiging van uitstaande rekeninge.
Tydens die terugvoeringsvergadering op 1 Maart, was lede van die skoolbeheerliggaam, die skoolhoof, Werner van Huyssteen asook die kringbestuurder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Rozelle Smith-Neethling teenwoordig.
Hoewel dit nie 'n agendapunt was of 'n saak voortspruitend uit die vorige notule was nie, het 'n onlangse artikel in die Mossel Bay Advertiser waarin beweer word dat leerders vanweë wanbetaling uit die skool geskors is, onder die loep gekom.
Pieter van der Merwe, wat gekoöpteer is om op die skoolbeheerliggaam te dien en die terugvoeringsessie hanteer het, het gesê dat die beweerde skorsings onwaar is. Ter stawing het hy gesê dat daar volgens die skool se rekords, sedert 2019 geen permanente uitsettings was nie, maar wel tydelike skorsings in 2021, waaronder twee leerders van Sonskynvallei was.
In die skool se terugvoering, is breedvoerig uitgewei oor die verskeie stappe om met die ouergemeenskap te skakel rakende finansies en prosesdures van kwytskelding. Die skool het uitgestip dat elke leerder se inligting vertroulik hanteer word en het die aantyging dat wanbetalers ge-etiketteer word, weerlê.
Van der Merwe het voorts gesê dat ouers ook nie lukraak vir skuldinvordering oorhandig word nie, maar slegs wanneer die skool alle moontlike opsies om self die invordering te doen, uitgeput het.
Hy het ook gesê dat die stelling dat die skool weier om aansoeke om vrystelling vir 2022 te aanvaar, hangende die afbetaling van uitstaande skuld en ook dat die van die handwysing van onvoltooide vorms, onwaar is.
Van der Merwe het genoem dat daar in 2021, 213 vrystellings van skoolgeld was en dat slegs twee persone, nie van Sonskynvallei nie, afgekeur is.
Ouers is deurlopend gedurende die vergadering aangemoedig om hulle kwessies oor die kwytskeldingsproses met die beheerliggaam op te neem.
Francois Reyneke, wat nuut op die beheerliggaam is, het homself persoonlik beskikbaar gestel om klagtes te ontvang namens die beheerliggaam, indien nodig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'