MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers het hulle skok uitgespreek nadat verneem is dat 'n bekende sakeman van Mosselbaai, op Maandag, 2 Desember tussen 10:00-11:00 in 'n ernstige motorfietsongeluk beseer is waarna sy regterbeen geamputeer moes word.
Jacques Mostert, eienaar van Signworx, was onderweg in die rigting van Mosselbaai toe hy in die Outeniquapas met 'n vragmotor gebots het.
Volgens inligting het die vragmotor, wat in die teenoorgestelde rigting op pad was, in 'n draai gedeeltelik in Mostert se baan beland wat tot die botsing aanleiding gegee het. Die vragmotor het in die pas omgeslaan en die drywer het ligte beserings opgedoen. Die pas was vir 'n tyd lank vir verkeer gesluit gewees na die botsing.
Nooddienste het Mostert na 'n hospitaal op George gehaas waar sy regterbeen geamputeer moes word in 'n poging om sy lewe te red, aldus sy verloofde, Almarine Els. Volgens Els was Mostert se seun, Luan op sy motofiets agter sy pa ten tye van die botsing en het hy alles sien gebeur.
Motorfietsklubbyeenkoms
Die mans was op pad huis toe ná 'n motorfietsklubbyeenkoms.
"Soos ek verstaan, was Jacques na die ongeluk nog by sy bewussyn om vir Luan te vra om 'n belt om sy been te bind vir die bloeding."
Mostert is in 'n kritieke toestand in 'n hospitaal op George opgeneem. Els het kort nadat sy van die botsing verneem het na die hospitaal gegaan en waak sedertdien daar. "Ons het hom Maandag 'n keer verloor, maar hy is weer bygebring, Hy het geveg vir sy lewe," het Els Woensdag telefonies aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Sy het gesê dat Mostert wonderbaarlik geen ander beserings het nie. "Dis ongelooflik. Sy fiets lê by die huis. Dit is moeilik om te dink as jy daarna kyk dat hy enigsins oorleef het. Daar is net 'n skraap op sy valhelm."
Els sê dat Mostert tydens die ongeluk baie bloed verloor het en bloedoortappings moes kry. Teen die ter perse gaan, was Mostert steeds onder sedasie.
"Daar sal seker nog 'n operasie of twee volg. Daar gaan aanpassings wees oor tyd. Jacques is 'n aktiewe mens. Ek is bekommerd oor die aanvanklike oordra van die nuus oor sy been."
Els het gesê dat sy, sowel as Mostert se seuns Luan en Jean-Pierre oneindig dankbaar is teenoor almal vir elke bemoedigende oproep en boodskap wat ontvang is. "Die mense het ons só ondersteun."
Die wrak van sy KTM-motorfiets na die ongeluk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'