MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap Sages maak elke jaar geld bymekaar deur middel van lotings by elk van hul byeenkomste wat hulle dan skenk aan 'n welsynsorganisasie of hulpbehoewende entiteit van hul keuse.
Hierdie jaar was dit die Mosselbaaitak se keuse om laasjaar se fonds van R3 000 aan so 'n organisasie te skenk. Hul keuse het geval op die Môreson ACVV kinder-en jeugsorgsentrum op George.
Dié sentrum is 'n nie-winsgewende geregistreerde sentrum wat omsien na 100 kinders tussen die ouderdomme van 3 en 18 jaar. Daar woon tussen 12 en 14 kinders in elk van die agt huise. Opgeleide kinder- en jeugsorgwerkers versorg die kinders en voorsien in hul daaglikse behoeftes.
Die kinders gaan skool by 17 verskillende skole, na aanleiding van elkeen se intellektuele vermoëns en behoeftes. Hulle moet elke dag met 'n bussie na die verskillende skole toe vervoer word. Die sentrum beskik ook oor allerlei programme, soos 'n ontwikkelingsgerigte asseseringsprogram, een vir gesondheid, terapie, onderwyshulp, ontwikkeling, onafhanklikheid en 'n versorgingsprogram. Die personeel strewe daarna om elke kind die geleentheid te gee om emosioneel gesond te word en weer sinvol in te skakel by die gemeenskap.
Die R3 000-skenking van die Sages gaan aangewend word vir skoene en skryfbehoeftes.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'