MOSSELBAAI NUUS - Suid-Afrikaners of Saffers, soos hulle bekend staan, wat in die buiteland gestrand is, brand om huis toe te kom. Maar te midde daarvan dat bykans 'n helfte van die wêreld, soos in Suid-Afrika, in 'n staat van inperking is vanweë die koronavirus, blyk dit uiters problematies te wees.
Franklin Groenewald van Mosselbaai werk reeds die afgelope 14 jaar vir Royal Caribbean International. Tans is hy aanboord van die Harmony of the Seas, geanker aan die ooskus van Florida, in 14 dae van isolasie.
Die skip, tweede grootste ter wêreld, het 'n kapasitiet van 6 600 passasiers en 2 100 bemanningslede.
Hulle bedrywighede is vanaf 16 Maart opgeskort, voorlopig vir 60 dae.
"Ons besoek die land slegs as ons sekerheid het van vlugte, waarmee bemanningslede huis toe gestuur kan word. Talle kere het ons aanwal gegaan en dan is bemanningslede weer teruggestuur skip toe omdat hulle vlugte gekanselleer was," het Groenewald tydens 'n onderhoud vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Die skip is sedert 14 Maart sonder pasassiers.
"Ons bemanning het die skip van bo tot onder skoongemaak en ontsmet. Kort daarna is ons kontrakte ook opgeskort, maar ons kan bly aanboord vir so lank as wat ons wil. Vlugte sal nog steeds op die maatskappy se koste gereël word. Tans is ons in gastekamers met balkonne."
Strande vol mense
Groenewald sê dat dit ontstellend is om te sien hoe "ligtelik" Amerikaners die virus opneem. "Steeds sien ons die strande vol mense en gesinne wat met hulle bote gaan vaar in die oop see vir die dag. Dis rêrig kommerwekkend om te sien juis omdat Amerika tans die nuwe episentrum van die virus is."
Self was hy nog nie in aanraking met die virus nie aangesien daar nog geen ernstige siek mense op hulle skip is nie. "Ek drink baie warm water en kry soveel vitamine C in as moontlik. Ons handhaaf ook almal 'n sosiale afstand van minstens 2m."
Die grootste uitdaging tans, volgens Groenewlad, is om die dae om te kry. "Dis nie maklik om in jou kamer te wees die heeldag nie. Jou mind moet jy besig hou. My roetine tans is opstaan, ontbyt eet, 'n vyf minute oefensessie, televisie kyk en ontspan op die balkon vir bietjie vars lug en sonskyn. Ons het ook WhatsApp-groepe met vriende aanboord so ons gesels die heel dag met mekaar om te hoor hoe dit gaan. Baie word gedoen om ons posistief te hou."
Groenewald sê dat die meer as 400 Suid-Afrikaners wat op skepe daar werk, almal deur middel van 'n WhatsApp-groep geskep deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking op hoogte van sake gehou word.
"Ek het teruggekeer skepe toe net voordat die virus sy hoogtepunt bereik het en wonder baie dae hoekom ek nie maar by die huis gebly het nie." Groenewald se suster, Robia Joseph het 'n sosialemediaveldtog van stapel gestuur om haar broer by die huis te kry.
Elke dag word die kajuit se balkon benut om 'n bietjie vars lug te kry.
Die kajuit waarin Franklin Groenewald tans vasgekluister is te midde van die Covid-19-pandemie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'